Reageer jy op Christus se liefde?
1 Die apostel Johannes het oor sy Heer se lewenswandel nagedink en geskryf: “[Jesus], wat dié liefgehad het wat syne was en wat in die wêreld was, [het] hulle tot die einde toe liefgehad” (Joh. 13:1). Gedurende hierdie Gedenkmaalseisoen word ons beweeg om aan Christus se grootste liefdesblyk te dink. Ons kan op daardie liefde reageer deur geloof in die losprys te beoefen, ywerig aan die predikingswerk deel te neem en, soos Jesus, “tot die einde toe” te volhard.—Matt. 24:13; 28:19, 20; Joh. 3:16.
2 Reageer op Christus se liefde: Jesus was baie besig gedurende die laaste week van sy aardse lewe (Matt. 21:23; 23:1; 24:3). As navolgers van Christus word ons ook deur liefde beweeg om ons ‘kragtig in te span’ in Jehovah se diens (Luk. 13:24). Kan jy gebruik maak van die reëlings vir ekstra getuieniswerk gedurende April deur meer tyd in die bediening te bestee?
3 Vanjaar val die Here se Aandmaal op Woensdagaand, 19 April. Hoeveel sal vir hierdie belangrike geleentheid teenwoordig wees? Dit hang grootliks van ons af. Het jy ’n lys gemaak van diegene wat jy van plan is om te nooi—jou Bybelstudente en ander belangstellendes, familie, sakekennisse en skoolmaats? Het jy hulle al besoek en hulle hartlik uitgenooi? Gaan jy hulle ’n paar dae voor die Gedenkmaal daaraan herinner? Het hulle jou hulp nodig om daar te kom? Die ouer manne sal ook almal uitnooi wat onbedrywig in die bediening geword het. Die feit dat die Gedenkmaal op ’n weeksaand gehou gaan word en nie oor die naweek nie, maak dit nie minder belangrik vir almal om teenwoordig te wees nie.
4 Kom voorbereid: Dit is belangrik dat ons voorbereid en in die regte gemoedstemming is wanneer ons die Gedenkmaal bywoon. Paulus het medegelowiges vermaan om die erns van die geleentheid in gedagte te hou (1 Kor. 11:20-26). Lees gerus hoofstukke 13 tot 17 van Johannes se Evangelie gedurende julle gesinsbybelstudie en laat elke gesinslid dan vertel wat Jesus se offerande vir hom beteken. Moet ook nie vergeet om gedurende die week van die Gedenkmaal die daaglikse Skrifgedeelte te lees nie!
5 Ons liefde vir Christus is nie iets oppervlakkigs nie, en hierdie liefde strek baie verder as 19 April. Ons is vasbeslote om vir ewig ons liefde vir hom te toon! Vanjaar se Gedenkmaalviering sal ons help om hierdie voorneme te versterk.