Toon groot agting vir Jehovah se luisterryke naam
1 Satan het God se naam belaster toe hy ons eerste ouers oorreed het om te sondig. Die Duiwel het geïnsinueer dat Jehovah vir Adam ’n leuen vertel het (Gen. 3:1-5). Aangesien God se naam verband hou met sy vermoë om sy woord te vervul, was Satan se aantyging die toppunt van laster. Deur sy Goddelike voorneme progressief te vervul, het Jehovah sy naam van alle blaam gesuiwer en dit luisterryk gemaak.—Jes. 63:12-14, NW.
2 Ons is die volk oor wie Jehovah ‘sy naam uitgeroep het’ (Hand. 15:14, 17). Dit gee ons die geleentheid om te toon hoe ons oor die heiliging daarvan voel. Vir ons is Jehovah se naam waarlik luisterryk, aangesien dit alles verteenwoordig wat goed, goedhartig, liefdevol, barmhartig en regverdig is. Ons is met ontsag vervul oor die grootheid van God se heerlike naam (Ps. 8:2; 99:3; 148:13). Wat moet dit ons beweeg om te doen?
3 Heilig God se naam: God se naam kan nie heiliger gemaak word as wat dit reeds is nie. Maar deur ons rein gedrag en Koninkrykspredikingswerk kan ons die grootste agting vir God se naam toon. Laat ons uitroep: “Dank Jehovah! Roep sy naam aan. Maak onder die volke sy handelinge bekend. Meld dat sy naam hoog verhewe is” (Jes. 12:4, NW). Hoe kan ons dit doen?
4 Ons kan elke geleentheid gebruik om Jehovah se naam en alles waarvoor dit staan te verkondig. Of dit nou formeel of informeel is, van huis tot huis of van winkel tot winkel, op straat of oor die telefoon, ons predikingswerk strek Jehovah tot eer. Wanneer ons belangstellendes vind wat luister, moet ons definitiewe afsprake maak om terug te gaan en hulle meer oor Jehovah te leer. Dit beteken dat ons daardie afsprake beslis moet nakom en in ons pogings moet volhard om tuisbybelstudies te begin. Daar is gelukkig elke jaar honderdduisende wat Jehovah se luisterryke naam leer ken en respekteer en dit heilig.
5 Ons heelhartige deelname aan die werk om God se naam te heilig, toon duidelik wat ons posisie is in die geskil wat Satan in Eden geopper het. Dit is die edelste, eervolste werk wat ons kan doen. Laat ons groot agting toon vir Jehovah se luisterryke naam en dit ywerig loof!—1 Kron. 29:13, NW.