Pionierdiens—’n Verstandige manier om ons tyd te gebruik!
1 ‘Ek het reeds te veel hooi op my vurk! Sal dit werklik verstandig van my wees om op hierdie stadium pionierdiens aan te pak?’ So het ’n suster gedink terwyl sy geluister het hoe ’n pionier- ouer man ’n toespraak by ’n kringbyeenkoms ontwikkel met die titel “Gaan ywerig voort met die pionierdiens”. ’n Jong broer in dieselfde gehoor het gedink: ‘Hoe maak hy plek vir pionierdiens? Al is ek nie ’n ouer man nie is my lewe reeds gevul met soveel bedrywighede!’
2 Terwyl die ouer man voortgegaan het om die seëninge van pionierdiens te bespreek, het hy onderhoude gevoer met verskeie pioniers in die kring, wat vertel het van die aanpassings wat hulle gemaak het om in die pionierdiens te wees en hoe Jehovah hulle pogings ryklik geseën het. Een was gestremd, een het ’n ongelowige huweliksmaat gehad en een het ’n wêreldse loopbaan prysgegee, maar kon steeds in sy eie behoeftes voorsien. Toe die broer en die suster in die gehoor hoor hoe hierdie pioniers met Jehovah se hulp sukses behaal, het hulle weer hulle siening van sake en omstandighede ondersoek. Ons nooi jou om dit ook te doen, veral aangesien die verminderde uurvereiste vir pioniers nou binne die bereik van baie meer verkondigers van die goeie nuus is.
3 Ons weet dat Jehovah die Skepper en Universele Soewerein is en dat ons ons lewe aan hom verskuldig is (Dan. 4:17; Hand. 17:28). Dit is vir ons duidelik dat Jehovah net een organisasie gebruik. Ons is bevoorreg om lojaal saam met daardie organisasie te dien en “die getroue en verstandige slaaf” te ondersteun deur die Koninkryksgetuienis te gee voor die einde kom (Matt. 24:45; 25:40; 1 Pet. 2:9). Omdat ons diep in “die laaste dae” lewe, besef ons dat die tyd min word om die predikingswerk te doen (2 Tim. 3:1). Intussen moet ons materieel vir ons gesin sorg (1 Tim. 5:8). ’n Mens kan nie meer dieselfde met jou inkomste doen as in die verlede nie. Dalk is ons gesondheid nie meer so goed soos dit was nie. En om eerlik te wees, ons wil darem ’n bietjie tyd en middele hê om aan onsself te bestee (Pred. 3:12, 13). Daarom wonder ons miskien of dit werklik so verstandig is om die uitnodiging vir pionierdiens te aanvaar.
4 Dit is ons plig om ons eie omstandighede noukeurig te ondersoek en te besluit of ons pionierdiens kan doen (Rom. 14:12; Gal. 6:5). Dit is bemoedigend om te sien hoe al hoe meer gehoor gee aan die oproep om die pionierdiens te betree. Ondanks die druk en probleme van hierdie laaste dae toon die diensrapport wat in die jaarboek vir 1999 verskyn dat daar wêreldwyd amper 700 000 van Jehovah se volk is wat ywerig met die pionierdiens voortgaan. Of hulle nou onder moeilike ekonomiese toestande dien, nie vervoer het nie, gesondheidsprobleme ondervind of met ander moeilikhede en ontberinge te kampe het, hierdie broers en susters word nie moeg om te doen wat voortreflik is nie, en dit is prysenswaardig (Gal. 6:9). Hulle het Jehovah se aanbod aanvaar om hom te beproef (Mal. 3:10). Hulle voel dat pionierdiens ’n baie verstandige manier is om hulle beperkte tyd en middele te gebruik en dat Jehovah hulle werklik seën omdat hulle die nodige veranderinge aangebring het om die pionierdiens te betree en daarin te bly.
5 Pioniers word geseën: ’n Suster in Kameroen wat ’n klein dogtertjie het, verduidelik: “Sedert my dogtertjie se geboorte het sy my nog altyd in die bediening vergesel. Selfs voordat sy leer loop het, het ek haar met ’n stuk materiaal stewig op my rug vasgemaak. Een oggend in die bediening het ek by ’n padstalletjie aangegaan. My kind het ’n paar tydskrifte uit my sak gehaal en van my af weggestap. Sy het na die volgende stalletjie toe gegaan. Hoewel sy nie veel kon sê nie, het sy ’n vrou se aandag getrek en vir haar ’n tydskrif aangebied. Die vrou was eenvoudig verstom om te sien dat so ’n jong kind aan hierdie bedrywigheid deelneem. Sy het geredelik die tydskrif en ’n tuisbybelstudie aanvaar!”
6 In reaksie op die oproep om meer hulppioniers het ’n ouer man en gesinshoof in Zambië, wat ’n voltydse sekulêre werk het, besluit om ondanks sy vol program hulppionierdiens te doen. Hy wou ’n voorbeeld vir die gemeente en vir sy gesin stel. Soms het hy sy motor langs die pad geparkeer en die oudiokasset Die geheim van gesinsgeluk gespeel en verbygangers genooi om te kom luister na wat hardop gelees word. Sodoende kon hy 16 Gesinsgeluk-boeke en 13 Kennis-boeke versprei, en hy het twee Bybelstudies begin.
7 In die naburige land Zimbabwe word daar ook ’n voortreflike pioniergees getoon. Gedurende April 1998 het ’n gemeente met 117 verkondigers 70 hulppioniers en 9 gewone pioniers gehad. ’n Ander gemeente met 94 verkondigers het 58 hulppioniers gehad wat gerapporteer het. Nog ’n ander gemeente met 126 verkondigers het gerapporteer dat 58 besluit het om hulppionierdiens te doen saam met die 4 gewone pioniers. Verlede diensjaar was ’n uitstekende jaar in Zimbabwe. Al was die broers baie besig met gesinsake, gemeentelike bedrywighede en die bouwerk aan die takkantoor het hulle hulle daarop toegelê om hulle tyd verstandig in die bediening te gebruik.
8 Pioniers besef dat hulle nie uit eie krag die pionierdiens kan betree en daarmee kan volhou nie. Hulle erken geredelik dat wat hulle ook al in staat is om te doen, moontlik is omdat hulle “afhanklik [is] van die krag wat God verskaf” (1 Pet. 4:11). Hulle geloof stel hulle in staat om dag na dag met hulle bediening voort te gaan. In plaas van hulle eie gerief en gemak na te streef, besef suksesvolle pioniers dat dit ’n “groot worsteling” kan verg om deur te druk, maar dat hulle gevolglik baie seëninge ontvang.—1 Tess. 2:2.
9 Paulus se voorbeeld is navolgenswaardig: Die Bybel vertel van die sukses wat die apostel Paulus in die bediening behaal het en die hulp wat hy aan soveel mense gegee het. Tog, as enigiemand oorlaai was met werk, was dit Paulus. Hy het vervolging en fisiese ontberinge verduur sodat hy die goeie nuus kon verkondig en die gemeentes kon versterk. Hy het ook ’n ernstige gesondheidsprobleem gehad (2 Kor. 11:21-29; 12:7-10). Hy was vasbeslote om sy tyd wyslik te gebruik. Hy het erken dat hy al sy werk met Jehovah se hulp gedoen het (Fil. 4:13). Nie een van die persone wat deur Paulus gehelp is, het rede gehad om te dink dat Paulus sy tyd en energie in Jehovah se diens gemors het of dit beter kon gebruik het nie. Trouens, ons vind selfs vandag nog baat by die verstandige manier waarop Paulus sy tyd gebruik het! Hoe waardeer ons nie sy geïnspireerde raad wat ons help om ons prioriteite in orde te kry en in hierdie moeilike tye by die waarheid te bly nie!
10 Nou, soos nog nooit tevore nie, ‘is die oorblywende tyd om die goeie nuus te verkondig kort’ (1 Kor. 7:29; Matt. 24:14). Dit is dus gepas om ons af te vra: ‘As my lewe onverwags môre tot ’n einde sou kom, sou ek vandag vir Jehovah kon sê dat ek my tyd wyslik gebruik het?’ (Jak. 4:14). Waarom nader jy Jehovah nie nou in gebed en verseker hom van jou begeerte om as een van sy Getuies jou tyd wyslik te gebruik nie? (Ps. 90:12). Bid vir Jehovah se hulp om jou lewe te vereenvoudig. Jy het pionierdiens dalk voorheen as onmoontlik beskou. Maar kan dit wees dat jy dit nou in jou lewe kan inpas?
11 Benut jou omstandighede ten volle: Dit is te verstane dat nie almal wat die begeerte het om as gewone pioniers te dien 70 uur per maand aan die diens kan wy nie, aangesien hulle omstandighede hulle nie toelaat nie. Baie verkondigers tref egter reëlings om so dikwels as moontlik of op ’n gereelde basis 50 uur ’n maand in die bediening te bestee as hulppioniers. As jou omstandighede jou nie toelaat om tans hulp- of gewone pionierdiens te doen nie, moet jy nie mismoedig voel nie. Hou aan bid dat jou omstandighede sal verander. As aanpassings eenvoudig nie moontlik is nie, kan jy jou intussen daaraan troos dat wat jy ook al heelhartig in Jehovah se diens doen hom behaag (Matt. 13:23). Hy sien dat jy jou ferm aan sy kant skaar en dat jy hard werk om ’n getroue verkondiger te wees wat nooit ’n maand laat verbygaan sonder om geleenthede aan te gryp om ’n getuienis te gee nie. Jy kan moontlik vooruitgang maak deur jou vaardighede in die getuieniswerk te verbeter en hard te werk om ’n goeie verkondiger en onderrigter van die goeie nuus te word.—1 Tim. 4:16.
12 Met “die groot en deurlugtige dag van die HERE” so naby, moet ons die tyd wat oorbly wyslik gebruik as ons die werk wil voltooi wat aan ons opgedra is (Joël 2:31). Satan weet dat sy tyd kort is, en soos nog nooit tevore nie probeer hy alles in sy vermoë om ons lewe te kompliseer en dit vir ons moeilik te maak om aandag aan die waarlik belangrike dinge te gee (Fil. 1:10; Op. 12:12). Moet nooit God se belangstelling in jou onderskat nie. Jehovah kan jou help om jou lewe te vereenvoudig en jou volle potensiaal in die bediening te bereik (Ps. 145:16). Gelukkig is daar baie wat vind dat hulle wel as hulp- of gewone pioniers kan dien nadat hulle hulle omstandighede weer in oënskou geneem het. Pioniers put inderdaad diepe bevrediging uit die wete dat hulle hulle tyd wyslik gebruik. Gaan jy een van hulle wees?