Hoe ons ons koninkrykseenheid kan behou
1 God se Koninkryk is ’n werklike regering wat mag en gesag het. Dit was die tema van Jesus se predikingswerk (Matt. 4:17). Jesus se bediening het hoofsaaklik daaruit bestaan om ander te leer en om van Koninkrykswaarheid te getuig. Hy het ons geleer om te bid dat daardie Koninkryk moet kom en dat ons dit voortdurend eerste moet soek (Matt. 6:9, 10, 33). As ons na aan Jehovah en sy organisasie bly, ons predikingsopdrag uitvoer en afgeskeie van die wêreld bly, kan ons ons Koninkrykseenheid behou. Deur ons dade en woorde toon ons dat ons ons aan die kant van die Koninkryk skaar.—Joh. 18:37.
2 Sedert 1914 het die Koninkryk vir miljoene onderdane ’n werklikheid geword. Die eenheid wat onder hierdie onderdane van die Koninkryk heers, vorm ’n skerp teenstelling met ’n verdeelde wêreld. Ons moet die Koninkryk ’n werklikheid in ons lewe maak voordat dit ’n verenigende krag kan wees. Hoe word dit vir ons ’n werklikheid?
3 Soos ander regerings het die Koninkryk ’n stel wette. Tog verskil dit in dié opsig dat die wette daarvan in die Bybel voorkom. As ons God se Woord gereeld lees, kry ons die nodige herinnerings van wat van ons as Koninkryksonderdane vereis word. Persoonlike studie van ons publikasies en leiding deur “die getroue en verstandige slaaf” help ons om God se wette in ons daaglikse lewe toe te pas (Matt. 24:45). Namate ons dit persoonlik toepas, word die Koninkryk vir ons ’n al hoe groter werklikheid, dit bring ons nader aan mekaar in die wêreldwye broederskap, wat ons ’n verenigde gesin van aanbidders onder Jesus se heerskappy maak.
4 Eenheid deur Koninkryksprediking: Ons opdrag is om die goeie nuus van die Koninkryk “tot in die mees afgeleë deel van die aarde” te verkondig (Hand. 1:8). As ons “eendragtig” getuig, verenig dit ons terwyl ons daarna streef om Jehovah te “verheerlik” (Rom. 15:5,6). Ywerige deelname saam met ons medewerkers oor die hele wêreld versterk ons geloof en laat Jehovah se gees deur ons werk om sy wil te volbring. As ons “volop het om in die werk van die Here te doen”, word ons “standvastig, onbeweeglik”.—1 Kor. 15:58.
5 In baie lande probeer Satan ons eenheid versteur deur ons predikingswerk te probeer dwarsboom. Hy gebruik elke middel tot sy beskikking om onenigheid te saai en misverstande te laat ontstaan, om tweedrag en twis te probeer verwek (Spr. 6:19; Gal. 5:19-21, 26). Hy wil hê ons moet betrokke raak by die wêreld se geskille en selfs kant kies ten opsigte van politieke en maatskaplike kwessies (Jak. 3:14-16). Die Skrif vermaan ons om sy invloed te weerstaan; andersins sal hy ons as sy prooi verslind (1 Pet. 5:8,9). Ons moenie toelaat dat die werklikheid van die Koninkrykshoop uit ons harte en verstande verdwyn nie.
6 Dit vereis gesonde verstand en wysheid van bo om ons eenheid te behou. Wanneer probleme opduik, veral as ons broers daarby betrokke is, moet ons die vrugte van die gees openbaar om die vrede te bewaar. Wêreldse eienskappe, soos trots, jaloesie en egotisme, saai verdeeldheid en moet oorkom word (Ef. 4:1-3; Kol. 3:5-10, 12-14). Ons moet voortdurend aan positiewe, opbouende dinge dink. Die Koninkryk is ’n werklikheid in ons lewens! Maar ons moet waaksaam wees om dit so te hou!—Ef. 6:11,13.
7 Die werklikheid van ons wonderlike Koninkrykshoop verenig ons in ’n gees van eenheid wat nooit tot ’n einde sal kom nie.—Ps. 133:1.