Help belangstellendes op ’n Liefdevolle wyse
1 Toe Jehovah se engel die dissipel Filippus na ’n Ethiopiër gestuur het wat opregte belangstelling in God se Woord van waarheid getoon het, het Filippus liefdevol aangebied om hom te help verstaan wat hy lees (Hand. 8:26-39). Wend ons ’n spesiale poging aan om diegene te help wat belangstelling toon? Ons behoort dit te doen, aangesien ons Goddelike opdrag die dissipelmaakwerk insluit (Matt. 28:19). Wat kan ons doen om hulle te help?
2 Sit elke week tyd opsy om herbesoeke te doen. Reël om diegene te besoek wat belangstelling getoon het en probeer die skriftuurlike bespreking van jou eerste besoek voortsit. Hou die doel om ’n Bybelstudie te begin in gedagte. Gaan gereeld terug om die jongste Wagtoring en Ontwaak! aan te bied as die intekeninge van die hand gewysis.
3 As jy die waarde van die Bybel tydens jou eerste besoek bespreek het, kan jy die gesprek voortsit deur ’n voorstel op bladsye 82-3 van die “Redenering”-boek te gebruik en iets soos die volgende te sê:
◼ “Party meen dat die Bybel se raad nie in ons hedendaagse wêreld prakties is nie. Wat dink jy? [Laat die huisbewoner antwoord.] Sal jy nie saamstem dat ’n boek wat goeie raad bevat wat ons kan help om ’n gelukkige gesinslewe te hê prakties is nie? [Laat die huisbewoner antwoord.] Teorieë en gebruike in verband met die gesinslewe het verander, en die resultate wat ons vandag sien, is nie goed nie. Maar gesinne wat die Bybel se raad toepas, is bestendig en gelukkig.” Lees Kolossense 3:18-21. Bied die traktaat Waarom jy die Bybel kan vertrou aan en verduidelik dat ons ’n gratis Bybelstudieprogram aanbied.
4 Jy kan ’n bespreking oor die toestand van die dooies soos volg begin:
◼ “Daar is al baie gesê oor die toestand van die dooies. Wat dink jy gebeur met ons wanneer ons sterf? [Laat die huisbewoner antwoord.] Die meeste godsdienste leer dat ons in die een of ander vorm voortleef. Baie was al verbaas om te leer wat die Bybel oor hierdie onderwerp sê. [Lees Prediker 9:5.] Hoewel die dooies nie ’n bewuste bestaan voer nie, is hulle nie vergete nie. God het belowe om hulle onder sy Koninkryksheerskappy op te wek.” Gaan na Die Wagtoring van 15 Oktober 1994 of na bladsy 162 in die Paradys op aarde-boek en bespreek die tekste en prente. Reël vir nog ’n herbesoek met die doel om ’n Bybelstudie te begin.
5 As jy ’n verdere verduideliking van die Christelike beskouing van oorlogvoering onder die nasies wil gee, kan jy iets soos die volgende sê:
◼ “Party meen dat geweld die enigste manier is om geskille op te los. Wat dink jy? [Laat die huisbewoner antwoord.] Die Bybel toon dat God wil hê dat mense in vrede moet saamlewe. [Lees Romeine 12:17, 18.] Dit sal wêreldwyd ’n werklikheid onder God se Koninkryksheerskappy word.” Verwys na bladsye 25-6 in die brosjure Gee God werklik vir ons om? Bied aan om terug te kom en te verduidelik waarom Jesus ons geleer bid het dat ‘God se wil op aarde soos in die hemel moet geskied’.—Matt. 6:10.
6 Die Ethiopiese hofdienaar het erken dat hy nie sou kon verstaan as iemand hom nie die weg gewys het nie (Hand. 8:31). Filippus het op ’n liefdevolle wyse aan hom die nodige hulp verleen. Ons kan ons opregte liefde vir ander toon deur hulle op soortgelyke wyse te help.