Vind belangstellendes deur doeltreffende straatgetuieniswerk
1 Jesus het sy dissipels opdrag gegee om na diegene te soek wat dit waardig is om die goeie nuus van die Koninkryk te hoor (Matt. 10:11). Maar in baie gebiede vandag raak dit al hoe moeiliker om met mense by hulle huis in aanraking te kom. Wat kan dus gedoen word om diegene te bereik wat die boodskap waardig is, maar wie ons nie tuis vind nie?
2 Straatgetuieniswerk kan ’n doeltreffende manier wees om mense te vind met wie ons nie in die huis-tot-huis-werk in aanraking kom nie. Ons kan straatgetuieniswerk doen by bushaltes, naby woonstelgeboue waar daar streng sekuriteit uitgeoefen word, in openbare parke en op ander plekke waar mense met hulle daaglikse doen en late voortgaan.
3 Party is skrikkerig by die gedagte aan straatgetuieniswerk. Hulle is dalk huiwering om aan daardie werk deel te neem omdat hulle geneig is om skaam te wees of verwag dat mense wat nie in die Koninkryksboodskap belangstel nie hulle sal afjak. Sulke besorgdheid is gewoonlik ongegrond. Diegene wat ondervinding in hierdie bedrywigheid het, sê dat dit niks moeiliker as die getuieniswerk van deur tot deur is nie. Trouens, hulle het gevind dat die meeste mense daaraan gewoond is om weens verskeie redes op straat genader te word, en party is meer geneig om ’n gesprek te voer of om te luister as wat hulle sou wees as ons aan hulle deur sou klop. As ons dus ‘die vrymoedigheid bymekaarskraap’, sal ons dalk aangenaam verras wees.—1 Thess. 2:2,NW.
4 Hoe kan straatwerk op die doeltreffendste manier gedoen word? Dit is belangrik om goed voor te berei. Lees die tydskrifte voor die tyd, en kies een of twee gesprekspunte wat jy dink die belangstelling sal wek van die mense wat jy teëkom. ’n Aanbieding van ongeveer 30 sekondes is min of meer reg. Aangesien dit die doelwit is om persoonlik met ander te praat, moet ons ’n plek kies waar ’n aansienlike aantal mense gereeld verbyloop. Hoewel dit raadsaam kan wees om nog ’n verkondiger naby te hê, is dit gewoonlik beter om afsonderlik te werk. Verkondigers wat by mekaar staan, is dalk geneig om die tyd te verwyl deur met mekaar te gesels en nie op te let na lede van die publiek wat moontlik na die Koninkryksboodskap sal luister nie.
5 Om op een plek te staan en bloot die tydskrifte ten toon te stel, is nie so doeltreffend soos om die inisiatief te neem en mense te nader nie. Probeer om oogkontak te maak. Wees hartlik, vriendelik en saaklik wanneer jy ’n gesprek probeer aanknoop. In sommige gevalle sal jy dalk ’n paar treë saam met die persoon moet loop terwyl jy met hom praat. As hy belangstelling toon, moet jy die tydskrifte aanbied. As hy die tydskrifte van die hand wys, kan jy ’n traktaat aanbied.
6 Dit is gewoonlik die beste om ’n kort aanbieding voor te berei wat ’n vraag opper of ’n stelling maak wat belangstelling sal wek. As daar ’n gunstige reaksie is, moet jy die persoon se naam, adres en selfs sy telefoonnommer probeer kry sodat jy die belangstelling kan opvolg. Jy kan sê: “As jy meer wil weet, sal ek jou graag tuis wil besoek of reël dat ’n ander Getuie dit doen.”
7 ’n Ouere man wat straatgetuieniswerk gedoen het, het ’n vrou genader en uitgevind dat sy nog nooit die geleentheid gehad het om met die Getuies by haar huis te gesels nie. Sy het ’n boek geneem en ingestem dat ’n suster haar tuis kan besoek op ’n tyd wat haar sal pas. Baie meer mense wat die boodskap waardig is, kan ongetwyfeld gevind en gehelp word as ons bekwaam is in die straatgetuieniswerk.—Hand. 17:17.