Die Wagtoring en die Ontwaak!—tydskrifte van waarheid
1 Die Wagtoring van 1 Januarie 1994, bladsy 22, het ons daaraan herinner dat ons tydskrifte ‘tydige artikels publiseer wat in die werklike behoeftes van mense voorsien’. Ons wil hierdie tydskrifte by soveel mense as moontlik aanbied. Gedurende April en Mei gaan ons in ons bediening die aandag op Die Wagtoring en die Ontwaak! vestig, aangesien ons mense gaan aanmoedig om op die tydskrifte in te teken. Hoewel Die Wagtoring-intekening die aanbod vir die maand is, sal ons in baie gevalle ’n intekening op albei tydskrifte aanbied.
2 Die werk van huis tot huis bied ons die beste geleentheid om hierdie tydskrifte te versprei en intekeninge aan te bied. Doeltreffende informele getuieniswerk en herbesoeke lei ook tot gereelde tydskrifverspreiding. Straatwerk en besoeke aan sakeondernemings in ons gebied is eweneens produktiewe maniere waarop ons intekeninge kan verkry en ons tydskrifverspreiding kan vermeerder.
3 Onderwerpe om te bespreek: Die Wagtoring van 1April bespreek die onderwerpe “’n Beter wêreld—Net ’n droom?” en “’n Beter wêreld—Op hande!” Dit strook beslis met die tydskrif se doel om die Koninkryk van God aan te kondig. Die tweede artikel sluit af deur te toon hoe ’n ewige paradys onder die heerskappy van Christus Jesus ’n werklikheid gaan word.—Luk. 23:43, NW.
4 “Waar kan jy betroubare leiding vind?” is die vraag wat in die nommer van 15 April bespreek word. Die nommers vir Mei sal hierdie onderwerp verder ondersoek in die artikels “Voorsien godsdiens in jou behoeftes?” en “Waarom moet ’n mens die Bybel lees?” Ons behoort maklik gesprekke met mense te kan begin wat meen dat hulle lewe geen betekenis en doel het nie.
5 Hoe om meer tydskrifte te versprei: Die Wagtoring van 1 Januarie het vier wenke gegee oor hoe ons meer tydskrifte kan versprei. Ons is aangemoedig (1) om tydskrifbewus te wees. Wanneer ons die tydskrifte lees, moet ons dink aan watter artikels die meeste by mense in ons gebied sal byval vind. As ons gereeld tydskrifte by ons het, kan ons hulle ook aanbied vir medewerkers, bure, onderwysers, skoolmaats of mense wat inkopies doen.
6 Ons is daaraan herinner (2) om ons aanbiedings eenvoudig te hou. Kies een interessante gedagte en verduidelik dit in ’n paar woorde. As jy die huisbewoner kan kry om die tydskrif te neem, kan die tydskrif met die persoon wat jy ontmoet het of met ander in die huishouding “praat”.
7 ’n Ander vereiste is (3) om aanpasbaar te wees. Dit is goed om verskillende artikels in gedagte te hê waaroor jy kan gesels—een vir jongmense, ’n ander een vir mans en iets anders vir vroue.
8 Laastens moet ons (4) ’n persoonlike doelwit stel van hoeveel tydskrifte ons wil versprei. Hoewel die gemeente nie ’n sekere kwota kan vasstel nie, kan ons elkeen vir ons ’n doelwit stel. Dit kan vir ons ’n groter aansporing wees om entoesiasties te wees wanneer ons die tydskrifte aanbied. As ons ’n vaste bestelling vir tydskrifte het, kan dit ons ook aanspoor om meer te doen.
9 Ons wil hê dat ander van God se Koninkryk moet weet. Laat ons ten volle gebruik maak van die uitstekende hulp wat die tydskrifte voorsien in die verspreiding van die Koninkryksboodskap.—Matt. 10:7.