Skakel die traktate by ander lektuur in
1 Van al die tydskrifte wat vandag uitgegee word, kan slegs Die Wagtoring en die Ontwaak! opregte lesers help om die weg na die ewige lewe te vind. Wanneer jy gedurende April en Mei met mense gesels, sal party onmiskenbare belangstelling in die Koninkryksboodskap toon, en jy kan dadelik die jongste tydskrifte onder hulle aandag bring en ’n intekening aanbied. Ander sal dalk aanvanklik min belangstelling toon. In sulke gevalle kan jy eers een of twee punte in ’n traktaat bespreek; as die huisbewoner dan verdere belangstelling toon, kan jy die traktaat inskakel by die tydskrif of brosjure wat jy aanbied.
2 Jy kan sê:
◼ “Die meeste mense sal saamstem dat daar in vandag se wêreld meer probleme as oplossings is. Het jy geweet dat baie van ons ernstigste probleme in die Bybel voorspel is?” Dan kan jy na bladsye 4 en 5 van die traktaat Sal hierdie wêreld bly voortbestaan? blaai en van die probleme bespreek.
3 As jy die aandag op Die Wagtoring van 1 April vestig en die huisbewoner toon belangstelling in wat jy uit die traktaat gelees het, kan jy na die artikel met die titel “Volg die lig van die wêreld” blaai en verduidelik hoe Jesus Christus uiteindelik al die mensdom se probleme sal oplos. Bied dan die intekening aan. As die aanbod van die hand gewys word, kan jy ’n traktaat en twee tydskrifte by die huisbewoner laat en aanbied om op ’n geleë tyd terug te keer om die saak verder te bespreek.
4 As jy die “Ontwaak!” van 8 April aanbied, kan jy die inleiding gebruik wat in paragraaf 2 van hierdie artikel uiteengesit word en dan byvoeg:
◼ “Baie mense twyfel aan die vermoë van godsdiens en die politiek om ons probleme op te los, maar hulle wonder of die wetenskap die antwoord het.” Lees dan ’n gepaste punt in die artikel “Kan die wetenskap die uitdagings van die 21ste eeu die hoof bied?” Hierdie artikel sal heel waarskynlik by talle jongmense, veral skoliere of studente, byval vind.
5 Wanneer jy die aandag op die “Kyk!”-brosjure vestig, kan jy ’n ander benadering gebruik:
◼ “Baie mense wonder wat met ons gebeur wanneer ons sterf. Party sê ons gaan óf hemel toe óf hel toe; ander is nie seker nie. Die Bybel se antwoord is verbasend sowel as gerusstellend.” Dan kan jy die traktaat Watter hoop vir afgestorwe dierbares? uithaal en dele daarin bespreek. Daarna kan jy na bladsye 16 en 17 in die brosjure blaai as die huisbewoner belangstelling in die traktaat toon.
6 Wanneer jy vir Jode getuig, kan jy die traktaat A Peaceful New World—Will It Come? gebruik wat tekste uit die Hebreeuse Geskrifte aanhaal. Jy kan die huisbewoner die twee vrae vra wat in die eerste paragraaf van die traktaat gestel word. Nadat hy geantwoord het, kan jy sy aandag op die eerste paragraaf op bladsy 3 vestig. Dit wys na die Messias as die een waardeur die vreedsame nuwe wêreld tot stand gebring gaan word. As die huisbewoner verdere belangstelling toon, kan jy Die Wagtoring van 1 April gebruik op die manier wat in paragraaf 3 van hierdie artikel voorgestel word.
7 As jy ’n nuwe verkondiger is, sal jy ongetwyfeld ’n eenvoudige benadering waardeer. Kry gerus ’n voorraad van die traktaat Sal hierdie wêreld bly voortbestaan? en volg die wenke wat in paragraaf 2 hierbo uiteengesit word.
8 Dit is vir ons ’n eer om die boodskap van redding na die mense se huise te bring. Laat ons in ons soeke na ‘dié wat waardig is’ goeie gebruik maak van ons traktate en hulle by ander lektuur inskakel wanneer ons belangstelling vind.—Matt. 10:13.