Moedig jongmense aan om geestelike doelwitte na te jaag
1 Nog nooit tevore het soveel jongmense aan die verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk deelgeneem nie! Tienduisende gee gehoor aan die raad in Prediker 12:1: “En dink aan jou Skepper in die dae van jou jonkheid.” Wat beweeg hierdie jongmense om ’n gereelde aandeel aan die bediening te hê, en waarom dien so baie van hulle as pioniers?
2 Baie volg ongetwyfeld die voorbeeld van die voortreflike jong man Timotheüs. Sy ma en ouma het hom van kleins af ’n geestelike opvoeding gegee en hom aangemoedig om geestelike doelwitte na te jaag (2 Tim. 3:14, 15). Toe hy gevolglik die geleentheid gekry het om meer diensvoorregte te geniet, was hy bekwaam en gereed daarvoor.—Hand. 16:1-3.
3 Hoe kan meer jongmense aangemoedig word om geestelike doelwitte na te jaag? Watter soort grondslag moet gelê word? Hoe kan ouers waardering vir die waarheid in hulle kinders opbou en hulle help om langtermyndoelwitte vir hulleself te stel?
4 Lê ’n skriftuurlike grondslag: Ouers moet seker maak dat die dinge wat hulle hulle kinders leer van Jehovah af kom sodat dit hulle kinders “wys kan maak tot redding” (2 Tim. 3:15, NW). Streef ywerig daarna om ’n innige liefde vir God se Woord, die Bybel, in hulle te kweek. Dit behels ’n gereelde, sinvolle Bybelstudie wat by hulle behoeftes aangepas is, sowel as gereelde vergaderingbywoning. Jongmense moet hulle eie persoonlike studieprogram hê en ’n persoonlike verhouding met Jehovah opbou sodat hulle sterk geloof kan hê wat hulle sal beweeg om geestelike doelwitte na te jaag.—1 Thess. 5:21; Hebr. 11:1.
5 Christenjongmense sal meer geneig wees om geestelike belange na te jaag as hulle ouers en ander ryp Christene in die gemeente ’n goeie voorbeeld stel en “die vreugde van Jehovah” uitstraal (Neh. 8:10, NW). Deur vreugde aan die dag te lê, kan elkeen van ons die jongmense help besef dat die vereistes vir die ware Christelike godsdiens nie ’n las is nie.—1 Joh. 5:3, NW.
6 Baie jongmense is grootliks beïnvloed deur pioniers, sendelinge en reisende opsieners wat saam met hulle in die velddiens gewerk het of wat hulle aangemoedig het. Ouers kan help deur voorbeeldige voltydse werkers vir ete te nooi of om Christelike omgang saam met hulle te geniet. Jesus Christus was die beste voorbeeld van iemand wat gebalanseerde aandag aan jonger mense gegee het.—Mark. 10:13-16.
7 Stel doelwitte: Met behoorlike leiding van hulle ouers stel kinders dikwels vroeg in hulle lewe doelwitte vir hulleself. Sodra jongmense besluit het watter prysenswaardige geestelike doelwit hulle graag wil bereik, hetsy dit die pionierdiens is, om te dien in plekke waar daar hulp nodig is, Bethel- of spesiale pionierdiens, ensovoorts kan ouers en ander ryp Christene hulle hartlik aanmoedig om aan te hou om hulle doelwit na te streef en praktiese wenke aan die hand doen wat hulle sal aanspoor.
8 Elke gemeente is soos ’n gesin. Elkeen van ons moet dus daarin belangstel om jongmense te help om in die waarheid te bly wandel en om geestelike vooruitgang te maak. Ons kan dit doen deur hulle van ons liefde te verseker en hulle aan te moedig om geestelike doelwitte na te jaag.