Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w11 3/1 bl. 8-9
  • Wat is “die einde”?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat is “die einde”?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • Soortgelyke materiaal
  • Vier vrae oor die einde word beantwoord
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • Die “einde van die wêreld”—Iets om na uit te sien
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Sal die aarde vernietig word?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • Moet jy die einde van die wêreld vrees?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2013
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
w11 3/1 bl. 8-9

Wat is “die einde”?

“. . . en dan sal die einde kom.”—MATTEUS 24:14.

DIE einde van die wêreld is blykbaar ’n baie gewilde onderwerp. Boeke, rolprente en tydskrifte wat van die komiese tot die wetenskaplike wissel, beeld die einde uit as iets wat met ’n rampspoedige gebeurtenis gepaardgaan, soos uitwissing deur middel van ’n kernoorlog, ’n asteroïed wat met die aarde bots, ’n dodelike virus, onkeerbare klimaatsveranderinge of invallers uit die buitenste ruimte.

Godsdiensbeskouings verskil ook; baie leer dat “die einde” ’n einde sal maak aan alle lewe op aarde. Een teoloog het hierdie sombere woorde in verband met Matteus 24:14 geskryf: “Hierdie vers is een van die belangrikste verse in die hele Woord van God . . . Ons geslag staar die moontlikheid van sulke algehele vernietiging in die gesig dat min van ons ons die aaklige werklikheid daarvan probeer voorstel.”

Sulke beskouings neem gewoonlik nie die volgende belangrike feit in ag nie: Jehovah God het die aarde “stewig gevestig”; hy het “dit nie verniet geskep . . . nie, [maar het] dit gevorm om bewoon te word” (Jesaja 45:18). Toe Jesus dus na “die einde” verwys het, het hy nie bedoel dat die aarde vernietig sal word nie; hy het ook nie bedoel dat die mensdom uitgewis sal word nie. Hy het bedoel dat die goddeloses—diegene wat hardkoppig weier om in ooreenstemming met Jehovah se liefdevolle riglyne te lewe—vernietig sal word.

Kyk na ’n illustrasie. Gestel jy besit ’n pragtige huis en laat toe dat mense verniet daarin woon. Party inwoners bly in vrede saam en sien goed na jou huis om. Maar ander veroorsaak net probleme, baklei met mekaar en mishandel die goeie inwoners. Hulle beskadig jou eiendom en weier hardkoppig om gehoor te gee aan jou pogings om hulle te keer.

Wat sou jy doen om sake reg te stel? Sou jy jou huis laat sloop? Waarskynlik nie. Jy sou waarskynlik die slegte inwoners uitsit en die skade wat hulle aangerig het, herstel.

Jehovah sal op soortgelyke wyse optree. Hy het die psalmis geïnspireer om te skryf: “Die kwaaddoeners sal uitgeroei word, maar dié wat op Jehovah hoop, hulle sal die aarde besit. En nog net ’n klein rukkie en die goddelose sal daar nie meer wees nie; en jy sal beslis ag gee op sy plek, en hy sal daar nie wees nie. Maar die sagmoediges sal die aarde besit, en hulle sal hulle inderdaad verlustig in die oorvloed van vrede.”—Psalm 37:9-11.

Die apostel Petrus het dieselfde onderwerp bespreek. Hy het onder inspirasie geskryf: “Daar [was] van lankal af hemele . . . en ’n aarde wat kompak bo water uit en te midde van water gestaan het deur die woord van God; en deur dié middele is die wêreld van daardie tyd vernietig toe dit met water oorstroom is” (2 Petrus 3:5, 6). Hier verwys die apostel na die Vloed van Noag se dag. Die wêreld van goddelose mense is vernietig, maar die aarde is nie vernietig nie. Daardie aardwye Vloed dien “vir goddelose mense [as] ’n voorbeeld van toekomstige dinge”.—2 Petrus 2:6.

Toe het Petrus bygevoeg: “Die hemele en die aarde wat nou is, [is] vir die vuur weggelê.” As ons daar ophou, kan ons die verkeerde idee kry. Maar let op wat die vers verder sê: “En van die vernietiging van die goddelose mense.” Dit is nie die aarde wat vernietig sal word nie, maar die goddeloses. Wat sal hierop volg? Petrus het geskryf: “Daar is nuwe hemele [God se Messiaanse Koninkryk] en ’n nuwe aarde [’n regverdige mensegemeenskap] wat ons volgens sy belofte verwag, en daarin sal regverdigheid woon.”—2 Petrus 3:7, 13.

Bybelprofesieë toon ook dat “die einde” binnekort sal kom. Lees Matteus 24:3-14 en 2 Timoteus 3:1-5 om bewyse hiervan te sien.a

Is dit nie vir jou vreemd dat daar soveel verwarring is oor Matteus 24:14, ’n vers wat selfs ’n kind kan verstaan nie? Daar is redes hiervoor. Satan het mense verblind vir die kosbare waarhede in God se Woord (2 Korintiërs 4:4). God het sy voornemens ook vir die hoogmoediges verberg en dit aan nederiges geopenbaar. In verband hiermee het Jesus gesê: “Ek loof u in die openbaar, Vader, Here van hemel en aarde, omdat u hierdie dinge vir die wyse en intellektuele mense verberg het en dit aan klein kindertjies geopenbaar het” (Matteus 11:25). Wat ’n voorreg is dit tog om onder die nederiges te wees wat verstaan wat die Koninkryk van God werklik is en wat kan uitsien na die seëninge wat dit sal meebring vir almal wat dit ondersteun!

[Voetnoot]

a Vir breedvoeriger inligting, sien hoofstuk 9 van die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

[Prent op bladsy 9]

Die Koninkryk sal “die einde” van alle goddeloosheid op aarde beteken

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel