Vrae van lesers
In Nehemia 8:10 is daar vir die Jode gesê om ‘die vettighede te eet’, terwyl die Wet in Levitikus 3:17 gesê het dat hulle ‘geen vet mag eet nie’. Hoe kan hierdie stellings met mekaar versoen word?
In die oorspronklike taal word verskillende woorde gebruik vir “die vettighede” in Nehemia 8:10 en “vet” in Levitikus 3:17. Die Hebreeuse woord cheʹlev, wat in Levitikus 3:17 met “vet” vertaal word, verwys na die vet van diere of van mense (Lev. 3:3; Rigt. 3:22). Die konteks van vers 17 toon dat die Israeliete nie die lae vet aan die ingewande en aan die niere van offerdiere of die vet aan die lendene mag geëet het nie, want “al die vet behoort aan Jehovah” (Lev. 3:14-16). Die vet in die liggaam van diere wat aan Jehovah geoffer sou word, moes dus nie geëet word nie.
Daarenteen is die woord wat in Nehemia 8:10 met “die vettighede” vertaal word masj·man·nimʹ, en dit is die enigste keer dat hierdie woord in die Hebreeuse Geskrifte voorkom. Dit word afgelei van die werkwoord sja·menʹ, wat “vet wees, vet word” beteken. Die grondbetekenis van die groep woorde wat verwant is aan hierdie werkwoord, is blykbaar voorspoed en welstand. (Vergelyk Jesaja 25:6.) Een van die woorde wat die meeste van hierdie werkwoord afgelei word, is die selfstandige naamwoord sjeʹmen, wat dikwels met “olie” vertaal word, soos ook in die woord “olyfolie” (Deut. 8:8; Lev. 24:2). Soos dit in Nehemia 8:10 gebruik word, verwys masj·man·nimʹ blykbaar na voedsel wat met ’n groot hoeveelheid olie voorberei is en kon dit selfs vleis met ’n bietjie vet, maar nie lae suiwer dierevet nie, ingesluit het.
Hoewel die Israeliete verbied is om lae dierevet te eet, kon hulle ryk, smaaklike voedsel eet. Party dinge, soos koeke wat van graan gemaak is, is nie in dierevet gaargemaak nie, maar in plantolie, dikwels olyfolie (Lev. 2:7). Insight on the Scriptures verduidelik dus dat “die vettighede” hier “verwys na ryk porsies, dinge wat nie maer of droog is nie, maar sappig, met inbegrip van smaaklike geregte wat met plantolies voorberei is”.
Christene hou natuurlik in gedagte dat die verbod om vet te eet, deel was van die Wet. Hulle is nie onder die Wet, insluitende die vereistes in verband met diereoffers nie.—Rom. 3:20; 7:4, 6; 10:4; Kol. 2:16, 17.