’n Brief uit Ghana
Die dag toe die swart gordel losgemaak is
HY LYK nie soos ek my voorgestel het hy sou lyk nie. Geklee in sy vloeiende karatepak van kraakwit katoen, met ’n vyf sentimeter breë swart gordel wat styf om sy dun middel geknoop is, neem hy ’n vegposisie in, met sy hande styf en gereed, en sy kaal voete wyd uitmekaar. Sy gesig is intens; hy frons van konsentrasie. Sy oë is op skrefies getrek, hard, dreigend—sonder selfs ’n tikkie sagtheid wat swakheid sou verraai.
Skielik, met ’n harde uitroep, beweeg hy. “Hjat!” Sy hand swiep so vinnig deur die lug dat ’n mens dit skaars kan sien. Swiesj! ’n Houtplank breek met ’n harde slag en val op die grond. Hy draai weer vinnig om, maar hierdie keer hoog deur die lug terwyl hy gladde bewegings met sy hande en voete uitvoer en sy verskrikte opponent akkuraat geplaaste houe toedien. Kan dit werklik die man wees wat ’n Bybelstudie gevra het?
Ek tree met ’n uitgestrekte hand vorentoe. “Jy is seker Kodjo. Ek verstaan jy wil graag die Bybel bestudeer.” Ons skud blad en hy glimlag breed, met ’n hartlike en vriendelike uitdrukking op sy gesig. Sy oë is nou nie meer intens en intimiderend nie, maar vol belangstelling. “Ja, ek sal dit baie waardeer”, sê hy. “Wanneer begin ons?”
Ons sit met ons Bybels en handboeke op die stoep van sy huis. Hier is dit koeler, stiller en kan ons alleen wees. Daar is drie van ons: Ek, Kodjo en sy apie. Die apie, wat net 35 sentimeter lank is, het ’n klos rooi hare op sy kop en ’n wit baard wat hom komieklik en ondeund laat lyk. Hy is oulik, spelerig en vreeslik nuuskierig, en hy beweeg vryelik rond, terwyl hy oor ons papiere loop, ons penne gryp en sy handjies in ons hempsakke steek op soek na iets lekkers. Kodjo ignoreer die afleidings en konsentreer op die les, net soos ’n ouer wat gewoond is aan die geraas en woeligheid van klein kindertjies. Hy het baie vrae, wat vir my wys dat hy dink en gretig is om te leer. Dalk het karate hom geleer om versigtig te wees, want hy aanvaar niks voordat hy nie oortuig is en bewyse uit die Skrif het nie.
Ons studie vorder goed. Maar met verloop van tyd sien ek ’n ander stryd ontwikkel, een wat diep binne-in hom woed en al hoe hewiger word. “Die enigste ding in hierdie wêreld waarvoor ek lief is, is die vegkuns”, sê hy vir my. Ek kan ’n passie vir die stryd in hierdie vegter se hart sien, ’n toegewydheid aan die vaardigheid wat hy geslyp en vervolmaak het. Op 26-jarige ouderdom is hy nie net lief vir karate nie, maar hy is goed daarin en het gevorder tot die vlak van ’n swartgordelvegter, ’n prestasie wat min mense al bereik het of ooit sal bereik.
Ek is nie seker wat Kodjo sal doen nie. Ek vermoed hy besef dat om ’n karatevegter te wees en mense met sy hande en voete seer te maak, onverenigbaar is met die medelye, teerheid en besorgdheid wat die liefde wat onder ware Christene gevind word, kenmerk. Maar ek weet dat Bybelwaarheid al die harte van harder manne laat versag het. As sy hart reg is, sal Kodjo ook geleidelik onder die invloed van God se Woord ’n saggeaarde persoon word. Ek moet geduldig wees.
Een drukkende warm middag, toe ons amper klaar is met ons studie, lees ons ’n Bybelteks wat Kodjo tref, soos die impak van ’n opponent se kragtige skop. “Jehovah ondersoek die regverdige sowel as die goddelose, en Sy siel haat beslis elkeen wat geweld liefhet”, lees hy (Psalm 11:5). “Elkeen wat geweld liefhet”, herhaal hy saggies vir homself. Sy donkerbruin oë wat voorheen vasberade en onverbiddelik was, versag. Hy kyk my in die oë en begin stadig glimlag. “Ek het besluit.”
Ek en Kodjo doen nou die werk wat ons die liefste het—ons is vrywillige onderrigters wat gratis Bybelonderrig gee aan diegene wat wil luister. Ons het vanoggend ’n afspraak met ’n jong man genaamd Luke.
Op pad na sy huis toe neem ons die nou en stampvol pad deur die markplein. Daar is honderde stalletjies en smouse al langs die strate met hulle goedere: hopies rooi en groen brandrissies, mandjies vol ryp tamaties, hope okra, asook radio’s, sambrele, koekies seep, pruike, kookgereedskap en tweedehandse skoene en klere. Meisies verkoop warm, gekruide kos in groot aluminiumbakke wat hulle grasieus op hulle koppe balanseer. Hulle vleg behendig deur die skare terwyl hulle honger klante se monde laat water vir die smaaklike soppe en bredies van geurige gerookte vis, krappe en slakke. Honde, bokke en kekkelende hoenders skarrel om jou rond. Radio’s blêr, toeters toet en mense skree.
Ons volg die grondpaadjie wat ons van die woeligheid van die dorp af weglei en kom by ’n vervalle gebou. Luke, ’n skraal jong man in sy vroeë twintigs, staan in die deur en nooi ons binne sodat ons uit die son kan kom. Die plek is stampvol sakke en bokse vol gedroogde kruie en wortels, blare wat met toutjies vasgemaak is en dik stukke bas—dit behoort alles aan Luke se bejaarde tante, wat ’n kruiedokter is. Geslagte van kennis lê opgesluit in haar konkoksies, wat spesiaal fyngestamp en gebrou is en gewaarborg word om allerhande aandoenings te behandel. Luke verwag ons. Hy het ’n plekkie skoongemaak en drie houtstoeltjies daar neergesit. Ons sit naby mekaar en begin ons Bybelles.
Luke is Kodjo se Bybelstudent. Ek sit terug en luister terwyl die twee jong mans die Bybel se antwoord bespreek oor waarom daar soveel lyding op aarde is. Wanneer Kodjo oorleun om Luke te help om ’n Bybelteks te vind, hou ek hom dop terwyl sy sterk hande die dun bladsye saggies omblaai. En dan dink ek daaraan dat daardie hande nie lank gelede nie ’n vegter se hande was. Die krag van God se Woord verander diepgewortelde negatiewe karaktertrekke, wat so algemeen in hierdie beginsellose wêreld is, in die positiewe eienskappe van medelye en liefde. Ek kan aan geen groter prestasie dink nie.
Op pad huis toe nader ons ’n man wat in die skadu van ’n mangoboom sit. Hy luister rustig terwyl Kodjo die Bybel oopmaak en ’n teks lees. Wanneer die man besef dat ons Jehovah se Getuies is, spring hy op. “Ek hou nie van julle mense nie!” snou hy ons toe. Kodjo verstyf vir ’n oomblik. Dan sien ek hoe hy ontspan en hom verskoon. Ons loop weg.
Verder af in die pad leun Kodjo na my toe oor en fluister: “Toe hy dit gesê het, het my hart gebons. Weet jy wat ek aan daardie man kon gedoen het?” “Ek weet”, sê ek met ’n glimlag. Hy glimlag ook en ons stap verder.