Kersfees—In watter rigting beweeg dit?
HIERDIE maand, tien jaar gelede, het die tydskrif U.S.News & World Report die voorbladartikel “Op soek na Kersfees” gehad. Die artikel het gehandel oor die vraag of Kersfees “suiwerder, minder kommersieel” word. Beweeg sake in daardie rigting?
Die artikel het insig gegee in die redes waarom ons dit nie moet verwag nie. Dit het gesê: “Tot en met die vierde eeu, toe Konstantyn . . . keiser van Rome was, is daar geen rekord van die amptelike viering van Christus se geboorte nie.” Dit bevestig, “ten minste gedeeltelik, dat niemand met sekerheid geweet het wanneer Jesus gebore is nie”. Die artikel het toegegee dat “die evangelies swyg oor die jaar, wat nog te sê die presiese maand of dag”. Volgens ’n geskiedkundige wat aan die Universiteit van Texas verbonde is, “het die vroegste Christene eenvoudig nie daarin belanggestel om die geboorte van Christus te vier nie”.
Onder die onderhofie “’n Verdigsel” het die artikel bespreek “hoe die kerk by 25 Desember uitgekom het”. Dit het erken: “Die algemeenste beskouing is dat die viering ’n doelbewuste ‘verchristeliking’ was van Saturnalieë en ander heidense feeste.” “Deur ’n datum vir Kersfees laat in Desember te kies, wanneer mense reeds daaraan gewoond was om fees te vier, het kerkleiers verseker dat die Verlosser se geboorte oral gevier sou word.” In die middel van die 19de eeu het die klem verskuif na die koop en gee van geskenke. “Die nuwe tradisie om Kersgeskenke te gee, het dadelik ’n oplewing in die handel teweeggebring, en handelaars en adverteerders het gou die seisoen begin bevorder.”
Daar is dus geen rede om te verwag dat Kersfees in enige ander rigting sal beweeg as weg van die suiwer Christelike geloof af nie. Hoewel Kersfees vandag deurtrek is van “vertoonsugtige kommersialisme”, het ware Christene dit nooit oorweeg om Jesus se geboorte te vier nie. Die Bybel beklemtoon eerder die losprys wat Christus deur sy dood en opstanding tot hemelse lewe voorsien het (Matteus 20:28). Dit sal tot in ewigheid belangrik bly.