Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w05 12/15 bl. 17-18
  • Hulp vir Chinese mense in Mexiko

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hulp vir Chinese mense in Mexiko
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
w05 12/15 bl. 17-18

Hulp vir Chinese mense in Mexiko

“TIEN man uit al die tale van die nasies [sal] die slip van ’n Joodse man vasgryp, ja, hulle sal dit vasgryp en sê: ‘Ons sal saam met julle gaan, want ons het gehoor dat God met julle is’” (Sagaria 8:23). Vandag word hierdie pragtige profesie oor die hele wêreld vervul. Mense “uit al die tale van die nasies” skaar hulle by die geestelike Israeliete om Jehovah God te aanbid. Jehovah se Getuies stel baie belang in die vervulling van hierdie profesie. Baie van hulle leer ’n ander taal sodat hulle aan die wêreldwye predikingswerk kan deelneem.

Jehovah se Getuies in Mexiko is geen uitsondering nie. Daar word geskat dat sowat 30 000 Chineessprekende mense in Mexiko woon. In 2003 het 15 van hulle die Herdenking van Christus se dood bygewoon wat in Mexikostad gehou is. Getuies in Mexiko het dus bewus geword van die potensiaal vir geestelike groei in die Chinese veld. ’n Drie maande lange kursus is gereël om Mexikaanse Getuies eenvoudige aanbiedings in Mandaryns te leer sodat meer verkondigers na hierdie Chineessprekende mense kan omsien. Altesaam 25 Getuies het die kursus bygewoon. Toe die kursus voltooi is, het ’n amptenaar van die Mandarynssprekende gemeenskap in Mexikostad die graduering bygewoon, wat toon watter impak die klas op die Chineessprekende bevolking gehad het. ’n Plaaslike Chinese instituut het vir drie van die studente beurse aangebied om na die buiteland te gaan om hulle Chinees te verbeter.

Die taalkursus het praktiese opleiding behels. Nadat die studente ’n paar baie eenvoudige frases geleer het, het hulle onmiddellik in die sakegebied van Mexikostad in Chinees begin getuig. Die ywerige studente het 21 Bybelstudies begin. Die brosjure Wat vereis God van ons? in Chinees met teks in die Romeinse alfabet, wat Pinjin genoem word, het baie gehelp.

Hoe het die Getuies wat kort tevore met die kursus in Chinees begin het, Bybelstudies gehou? Aanvanklik kon hulle net “Qing Du [Lees asseblief]” sê en na ’n paragraaf en dan na die vraag wys. Nadat die persoon dit gelees het en in Chinees geantwoord het, het hulle gesê: “Shei shei [Dankie]” en “Hen Hao [Baie goed].”

’n Bybelstudie is begin met ’n vrou wat ’n naamchristen was. Ná die derde studie het die Getuie gewonder of die vrou werklik die inligting verstaan. Die Getuie het dus ’n broer saamgeneem wie se moedertaal Chinees is. Toe hy wou weet of die vrou enige vrae het, het sy gesê: “Moet ek kan swem as ek gedoop wil word?”

Kort voor lank is ’n Gemeentelike Boekstudie gereël met ’n gemiddelde bywoning van 9 Chineessprekendes en 23 plaaslike Mexikaanse Getuies. Een van dié wat dit bygewoon het, was ’n Chinese dokter wat Die Wagtoring en Ontwaak! in Spaans by een van sy pasiënte gekry het. Aangesien hy nie Spaans kon lees nie, het hy iemand anders gevra om ’n paar reëls vir hom te vertaal. Toe hy besef dat die tydskrifte oor die Bybel handel, het hy die pasiënt gevra of sy die tydskrifte in Chinees kan kry. Sy het, en deur middel van die takkantoor van Jehovah se Getuies in Mexiko is daar gereël dat ’n Chineessprekende Getuie hom besoek. Sy ma in China het ’n Bybel gehad, en die dokter het dit geniet om dit te lees. Toe hy besluit het om na Mexiko te gaan, het sy ma vir hom gesê dat hy nie moet ophou om die Bybel te lees nie. Hy het dus gebid vir iemand wat hom kon help om meer omtrent die God van die Bybel te leer. Hy het uitgeroep: “God het my gebed verhoor!”

’n Chinese gesin wat verblyfplek gehuur het by ’n Mexikaanse vrou wat die Bybel saam met Jehovah se Getuies gestudeer het, het ook die boekstudie bygewoon. Hoewel die Chinese gesin baie min Spaans verstaan het, het hulle bygesit tydens die Bybelbesprekings. Mettertyd het die gesin vir die Getuie wat die studie gehou het, gevra of sy enige publikasies in Chinees het. Kort voor lank is ’n Bybelstudie in Chinees met hulle gehou. Nie lank daarna nie het die gesin die begeerte uitgespreek om vir hulle landgenote te getuig en om hulle lewens aan Jehovah toe te wy.

Chinees is weliswaar ’n moeilike taal om te leer. Maar soos die voorgaande ondervindinge toon, leer mense van baie tale, insluitende Chinees, met Jehovah se hulp God se wil in Mexiko, sowel as in ander dele van die wêreld.

[Prent op bladsy 17]

’n Chinese taalklas in Mexikostad

[Prent op bladsy 18]

’n Mexikaanse Getuie hou ’n Bybelstudie in Chinees

[Prent op bladsy 18]

Die deur-tot-deur-bediening in Chinees, Mexikostad

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel