Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w05 9/1 bl. 27
  • Vrae van lesers

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vrae van lesers
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Soortgelyke materiaal
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Beoefen geloof wat tot die ewige lewe lei
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Jy kán vir ewig lewe
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Is die dode lewend? Wat God sê
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
w05 9/1 bl. 27

Vrae van lesers

Watter grondslag is daar vir die stelling dat frases soos “hy . . . wat alleen onsterflikheid het” en “wat nie een van die mense gesien het of kan sien nie”, na Jesus eerder as na Jehovah God verwys?

Die apostel Paulus het geskryf: “Hierdie openbaarwording sal die gelukkige en enigste Maghebber op die vasgestelde tye daarvoor toon, hy, die Koning van dié wat as konings heers en Here van dié wat as here heers, wat alleen onsterflikheid het, wat in ontoeganklike lig woon, wat nie een van die mense gesien het of kan sien nie.”—1 Timoteus 6:15, 16.

Bybelkommentators redeneer gewoonlik: ‘Hoe kan frases soos “hy . . . wat alleen onsterflikheid het”, die “enigste Maghebber” en “wat nie een van die mense gesien het of kan sien nie” na enigiemand anders as die Almagtige verwys?’ Hierdie uitdrukkings kan weliswaar gebruik word om Jehovah te beskryf. Maar die konteks toon dat Paulus in 1 Timoteus 6:15, 16 spesifiek na Jesus verwys het.

Aan die einde van vers 14 meld Paulus “die openbaarwording van ons Here Jesus Christus” (1 Timoteus 6:14). Wanneer Paulus dus in vers 15 skryf: “Hierdie openbaarwording sal die gelukkige en enigste Maghebber op die vasgestelde tye daarvoor toon”, verwys hy na ’n openbaarwording van Jesus, nie van Jehovah God nie. Wie is dan die “enigste Maghebber”? Dit lyk redelik om tot die slotsom te kom dat Jesus die Maghebber is na wie Paulus verwys. Waarom? Die konteks toon duidelik dat Paulus Jesus met menseheersers vergelyk. Jesus is waarlik, soos Paulus geskryf het, “Koning van dié [mense] wat as konings heers en Here van dié [mense] wat as here heers”.a Ja, in vergelyking met hulle is Jesus die “enigste Maghebber”. Jesus is “heerskappy en waardigheid en ’n koninkryk gegee, sodat al die volke, volksgroepe en tale hóm sou dien” (Daniël 7:14). Geen menslike maghebber kan dit van homself sê nie!

Wat van die frase “hy . . . wat alleen onsterflikheid het”? Weer eens word daar ’n vergelyking getref tussen Jesus en mensekonings. Geen aardse heersers kan sê dat hulle onsterflikheid gegee is nie, maar Jesus kan. Paulus het geskryf: “Ons weet dat Christus, noudat hy uit die dode opgewek is, nie meer sterf nie; die dood is nie meer meester oor hom nie” (Romeine 6:9). Jesus is dus die eerste een wat volgens die Bybel die gawe van onsterflikheid ontvang het. Trouens, toe Paulus hierdie brief geskryf het, was Jesus die enigste een wat onvernietigbare lewe verkry het.

Daarbenewens moet ons in gedagte hou dat dit verkeerd sou gewees het as Paulus gesê het dat Jehovah God alleen onsterflikheid het, aangesien Jesus ook onsterflik was toe Paulus hierdie woorde geskryf het. Maar Paulus kon sê dat Jesus alleen onsterflik is in vergelyking met aardse heersers.

Verder is dit beslis waar dat Jesus ná sy opstanding en hemelvaart beskryf kan word as iemand “wat nie een van die mense gesien het of kan sien nie”. Jesus se gesalfde dissipels sal hom weliswaar sien ná hulle dood en daaropvolgende opstanding tot lewe in die hemel as geesskepsele (Johannes 17:24). Maar geen mens op die aarde sal Jesus in sy verheerlikte toestand sien nie. Daar kan dus waarlik gesê word dat “nie een van die mense” Jesus sedert sy opstanding en hemelvaart gesien het nie.

Met die eerste oogopslag kan dit weliswaar lyk of die beskrywings in 1 Timoteus 6:15, 16 op God van toepassing kan wees. Maar die konteks van Paulus se woorde—tesame met die bevestiging van ander tekste—toon dat Paulus na Jesus verwys het.

[Voetnoot]

a Soortgelyke uitdrukkings word in 1 Korintiërs 8:5, 6; Openbaring 17:12, 14; 19:16 op Jesus toegepas.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel