Belangstelling in die Bybel word waardeer
MARIANNA, een van Jehovah se Getuies in die suide van Italië, is 18 jaar oud en in haar laaste jaar op hoërskool. Sy is in dieselfde skool as ’n paar ander jong Getuies.
“Die afgelope paar jaar”, skryf Marianna, “het ’n klompie van ons gedurende ons pouse die Bybelteks vir die dag uit Ondersoek die Skrif elke dag gelees. Die enigste plek waar ons dit kon doen, was in een van die gange naby die personeelkamer. Dit was nie baie stil daar nie. Die meeste van die onderwysers het ons gesien wanneer hulle verbygeloop het, en party het gaan staan om te kyk wat ons doen. Dit het ons dikwels die geleentheid gegee om hulle vrae te beantwoord. Daar het elke dag ten minste een onderwyser gaan staan. ’n Hele paar het al gebly om na ons bespreking van die Bybelteks te luister en het waardering uitgespreek vir die belangstelling wat ons as Getuies in geestelike dinge toon. Eenkeer het die onderhoof ons genooi om ons bespreking in die personeelkamer te hou.
“Nadat my onderwyser gesien het waar ons die teks bespreek, het hy die hoof gevra of ons dit in een van die klaskamers kan doen, waar dit stiller sou wees. Die hoof het toestemming gegee, en my onderwyser het ons voor die hele klas geprys vir die goeie voorbeeld wat ons stel. Ons is almal baie bly oor die groot voorreg wat Jehovah ons gegee het.”