Gesels jy met jou geliefdes?
“ONS vermoë om met geliefdes te kommunikeer, neem drasties af”, berig die Poolse weekblad Polityka. In die Verenigde State word geskat dat huweliksmaats net ses minute per dag aan sinvolle gesprekke met mekaar bestee. Sommige kenners meen dat hierdie afname verantwoordelik is vir die helfte van al die gevalle van egpare wat skei of uitmekaar gaan.
Wat van gesprekke tussen ouers en kinders? In die meeste gevalle “is dit in werklikheid nie ’n gesprek nie, maar ’n uitvraery: Hoe was skool? Hoe gaan dit met jou vriende?” sê die bogenoemde berig. Dit vra: “Hoe gaan ons kinders ooit leer om emosionele verhoudings te ontwikkel?”
Hoe kan ons ons vermoë om te gesels, verbeter, aangesien goeie kommunikasievermoëns nie net vanself ontwikkel nie? Die Christendissipel Jakobus het vir ons belangrike raad gegee: “Elke mens moet gou wees om te hoor, stadig om te praat, stadig om toornig te word” (Jakobus 1:19). Ja, om ’n opbouende gesprek te voer, moet ons aandagtig luister en ander nie ongeduldig onderbreek of oorhaastige gevolgtrekkings maak nie. Vermy kritiek, want dit kan ’n gesprek maklik laat doodloop. Wat meer is, Jesus het taktvolle vrae gebruik, nie om ander onder kruisverhoor te neem nie, maar om uit te vind wat in die hart van sy luisteraar is en om die band tussen hulle te versterk.—Spreuke 20:5; Matteus 16:13-17; 17:24-27.
Pas die goeie beginsels toe wat in die Bybel gevind word en neem die inisiatief om met jou geliefdes te gesels en te kommunikeer. Dit kan ’n hartlike verhouding tot gevolg hê, wat baie jare lank—selfs ’n leeftyd—gekoester sal word.