Bybelgeskiedenis—Hoe akkuraat?
IN HULLE boek Battles of the Bible maak Chaim Herzog, voormalige president van die staat Israel, en Mordechai Gichon, emeritusprofessor van argeologie aan die Universiteit van Tel Aviv, hierdie stelling:
“Die taktiese beskrywing van die gevegte in die Bybel . . . kan nie toegeskryf word aan blote verbeeldingskrag nie. ’n Mens hoef byvoorbeeld maar net Gideon se krygstog teen die Midianiete en hulle bondgenote, wat in Rigters 6-8 opgeteken is, te vergelyk met die gevegte in die Trojaanse Oorlog, wat in Homerus se Ilias beskryf word. Vir laasgenoemde sal enige bereikbare strand en ’n nabygeleë versterkte stad goed genoeg wees as ’n geografiese agtergrond . . . Dit is nie die geval met die Bybelse verslag van Gideon se krygstog nie. Die gedetailleerde taktiese bewegings en gevegte wat gebaseer was op die interaksie tussen spesifieke terreinkenmerke en die optrede van vriend sowel as vyand—oor ’n oorlogstoneel wat ongeveer [60 kilometer] gedek het—kan eenvoudig nêrens nageboots word nie . . . Ons word dus basies gedwing om die geloofwaardigheid te aanvaar van die beskrywings van die taktiese gevegte soos dit in die Bybel gegee word.”
Jy kan Gideon se krygstog bestudeer met behulp van die kaart op bladsye 18 en 19 van die brosjure “Sien die goeie land”.a Die verhaal het begin toe “die hele Midian en Amalek en die Oosterlinge . . . hulle soos een man versamel [het] en deurgetrek en in die laagvlakte van Jisreël kamp opgeslaan [het]”. Gideon het nabygeleë stamme om hulp gevra. Die gebeure het verskuif van die put Harod na die heuwel More en toe af in die Jordaanvallei. Nadat Gideon die vyand deur die Jordaanrivier agternagesit het, het hy hulle verslaan.—Rigters 6:33–8:12.
Daardie kaart in “Sien die goeie land” toon die vernaamste plekke wat genoem word en die betrokke terreinkenmerke. ’n Ander kaart (bladsy 15) identifiseer die gebiede van die stamme van Israel. Die twee kaarte kan jou help besef hoe akkuraat die Bybelverslag is.
Dit lig die juistheid toe van ’n opmerking wat deur wyle professor Yohanan Aharoni gemaak is: “In die land van die Bybel is aardrykskunde en geskiedenis so inmekaargeweef dat die een nie werklik verstaan kan word sonder die ander nie.”
[Voetnoot]
a Uitgegee deur Jehovah se Getuies.
[Foto-erkenning op bladsy 32]
Kaart op die agtergrond: Based on maps copyrighted by Pictorial Archive (Near Eastern History) Est. and Survey of Israel