Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w05 1/15 bl. 30-31
  • Vrae van lesers

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vrae van lesers
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Soortgelyke materiaal
  • Simson seëvier in die krag van Jehovah!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Vertrou op Jehovah, net soos Simson
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2023
  • Jehovah het Simson sterk gemaak
    Lesse wat jy kan leer uit die Bybel
  • Hy het in ’n tyd van swakheid moed gevind
    Wees moedig en maak God gelukkig
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
w05 1/15 bl. 30-31

Vrae van lesers

Hoe kon Simson aan die dooie liggame raak van dié wat hy verslaan het en nog steeds ’n Nasireër bly?

In eertydse Israel kon iemand ’n gelofte vrywillig aflê en vir ’n sekere tydperk ’n Nasireër word.a Een van die beperkings op iemand wat hierdie gelofte afgelê het, was: “Al die dae dat hy hom vir Jehovah afgesonderd hou, mag hy nie by enige dooie siel kom nie. Nie eens vir sy vader of sy moeder of sy broer of sy suster mag hy hom verontreinig wanneer hulle sterf nie.” Sê nou iemand ‘sterf ewe skielik langs hom’? As hy in so ’n geval per ongeluk aan ’n dooie liggaam geraak het, sou dit sy Nasireërskap verontreinig het. Daarom is daar gesê: “Die vorige dae moet nie getel word nie.” Hy moes ’n reinigingseremonie ondergaan en die tydperk van sy Nasireërskap van voor af begin.—Numeri 6:6-12.

Simson was egter ’n Nasireër in ’n ander sin. Voor Simson se geboorte het Jehovah se engel vir sy moeder gesê: “Kyk! jy sal swanger wees, en jy sal beslis aan ’n seun geboorte gee, en geen skeermes mag op sy kop kom nie, want die kind sal ’n Nasireër van God word vandat hy die moederskoot verlaat; en hy sal die leiding neem om Israel uit die hand van die Filistyne te red” (Rigters 13:5). Simson het nie ’n gelofte van Nasireërskap afgelê nie. Hy is deur God as ’n Nasireër aangestel, en sy Nasireërskap het lewenslank geduur. Die beperking om nie aan ’n lyk te raak nie, kon nie in sy geval van toepassing wees nie. As dit wel op hom van toepassing was en hy per ongeluk aan ’n dooie liggaam geraak het, hoe sou hy sy lewenslange Nasireërskap, wat by sy geboorte begin het, van voor af kon begin? Dit is dus duidelik dat die vereistes vir lewenslange Nasireërs in sommige opsigte van dié vir vrywillige Nasireërs verskil het.

Beskou Jehovah se bevele aan die drie lewenslange Nasireërs—Simson, Samuel en Johannes die Doper—wat in die Bybel genoem word. Soos vroeër gemeld is, is daar van Simson vereis dat hy nie die hare van sy kop sny nie. Aangaande haar kind wat nog verwek sou word—Samuel—het Hanna die gelofte afgelê: “Ek [sal] hom aan Jehovah gee al die dae van sy lewe, en geen skeermes sal op sy kop kom nie” (1 Samuel 1:11). In die geval van Johannes die Doper het Jehovah se engel gesê: “Hy moet hoegenaamd geen wyn en sterk drank drink nie” (Lukas 1:15). En “Johannes het klere van kameelhaar gedra en ’n leergordel om sy lendene; ook was sy voedsel sprinkane en wilde heuning” (Matteus 3:4). Nie een van hierdie drie persone is beveel om nie naby aan ’n dooie siel te kom nie.

Hoewel Simson ’n Nasireër was, was hy een van die rigters wat deur Jehovah verwek is om die Israeliete uit die hand van hulle plunderaars te red (Rigters 2:16). En terwyl hy hierdie toewysing uitgevoer het, het hy met dooie liggame in aanraking gekom. By een geleentheid het Simson 30 Filistyne doodgemaak en hulle klere van hulle afgestroop. Later het hy die vyand aangeval en “met ’n groot slagting bene op dye gehoop”. Hy het ook ’n vogtige eselskakebeen geneem en duisend man daarmee doodgeslaan (Rigters 14:19; 15:8, 15). Simson het al hierdie dinge met Jehovah se goedkeuring en ondersteuning gedoen. Die Skrif verwys na hom as ’n man met navolgenswaardige geloof.—Hebreërs 11:32; 12:1.

Toon die stelling dat Simson ’n leeu uitmekaar geskeur het “soos iemand ’n jong bokram in twee skeur”, dat dit in sy dag ’n algemene gebruik was om jong bokke uitmekaar te skeur?

Daar is geen bewyse dat dit in die tyd van Israel se rigters ’n algemene gebruik was vir mense om jong bokke uitmekaar te skeur nie. Rigters 14:6 sê: “Jehovah se gees [het] oor [Simson] werksaam geword, sodat hy [’n jong maanhaarleeu] in twee geskeur het, soos iemand ’n jong bokram in twee skeur, en daar was hoegenaamd niks in sy hand nie.” Hierdie kommentaar is waarskynlik ’n illustrasie.

Die uitdrukking ‘hy het dit in twee geskeur’, kan twee betekenisse hê. Simson het óf die kake van die leeu oopgeskeur óf die leeu op een of ander manier stuk vir stuk uitmekaar geskeur. As eersgenoemde bedoel word, dan sal dit menslik moontlik wees om dieselfde met ’n jong bok te doen. In hierdie geval illustreer die parallel dat dit vir Simson net so maklik was om ’n leeu met sy kaal hande te verower as wat dit sou gewees het as die leeu bloot ’n jong bokram was. Maar sê nou Simson het die leeu doodgemaak deur hom stuk vir stuk uitmekaar te skeur? Dan kan die kommentaar nouliks beskou word as enigiets anders as ’n vergelyking. Die punt van die vergelyking sou wees dat Jehovah se gees Simson die krag gegee het om ’n taak te verrig wat buitengewone fisiese krag geverg het. In albei gevalle toon die vergelyking wat in Rigters 14:6 gemaak word dat ’n sterk leeu vir Simson, met Jehovah se hulp, nie gevaarliker was as wat ’n jong bokram vir ’n gewone mens is nie.

[Voetnoot]

a Die lengte van die tydperk van Nasireërskap het afgehang van die persoon wat die gelofte afgelê het. Maar volgens Joodse tradisie was die kortste tydperk vir so ’n gelofte 30 dae. Daar is gedink dat ’n korter tydperk die gelofte iets alledaags sou maak.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel