Wat Jehovah se nederigheid vir ons beteken
DAWID was ’n man wat teëspoed geken het. Sy jaloerse skoonvader, koning Saul, het hom sleg behandel. Saul het drie keer probeer om Dawid met ’n spies dood te maak en het hom jare lank voortdurend agtervolg, wat hom gedwing het om ’n voortvlugtige te word (1 Samuel 18:11; 19:10; 26:20). Maar Jehovah was met Dawid. Jehovah het hom nie net van Saul gered nie, maar ook van ander vyande. Ons kan dus begryp hoe Dawid gevoel het toe hy gesing het: “Jehovah is my groot rots en my vesting en die Een wat aan my ontkoming verskaf. . . . U [Jehovah] sal my u skild van redding gee, en u nederigheid maak my groot” (2 Samuel 22:2, 36). Dawid het ’n mate van grootheid in Israel bereik. Maar hoe was Jehovah se nederigheid daarby betrokke?
Wanneer die Skrif sê dat Jehovah nederig is, beteken dit nie dat hy enigsins beperk is of dat hy aan ander onderworpe is nie. Hierdie pragtige eienskap dui eerder daarop dat hy innige medelye het met mense wat opreg daarna streef om sy goedkeuring weg te dra en dat hy barmhartigheid aan hulle bewys. Ons lees in Psalm 113:6, 7: “[Jehovah] buig hom neer om na die hemel en die aarde te kyk, en hy rig die geringe uit die stof op.” Die feit dat hy hom ‘neerbuig’, beteken dat “hy buk om te sien” of dat “hy Hom verneder om te kyk” (Today’s English Version; Young’s Literal Translation of the Holy Bible). Jehovah het hom dus vanuit die hemele ‘neergebuig’ of ‘hom verneder’ sodat hy aandag kon skenk aan Dawid, ’n onvolmaakte maar nederige man wat God wou dien. Daarom verseker Dawid ons: “Jehovah is hoog, en tog sien hy die nederige” (Psalm 138:6). Die barmhartige, geduldige en medelydende manier waarop Jehovah met Dawid gehandel het, behoort almal wat probeer om God se wil te doen, aan te moedig.
Hoewel Jehovah as die Soewerein die mees verhewe posisie in die heelal beklee, is hy bereid om aan elkeen van ons aandag te skenk. Dit gee ons die versekering dat ons selfs onder die moeilikste omstandighede op sy onfeilbare hulp kan staatmaak. Ons hoef nooit te vrees dat hy ons sal vergeet nie. Met betrekking tot sy eertydse volk Israel word Jehovah gepas beskryf as die een “wat aan [hulle] gedink het in [hulle] vernederde toestand: want sy liefderyke goedhartigheid is tot onbepaalde tyd”.—Psalm 136:23.
As Jehovah se hedendaagse knegte ervaar ons dalk, net soos Dawid, teëspoed. Miskien word ons bespot deur mense wat God nie ken nie, of miskien sukkel ons met slegte gesondheid of het ons ’n geliefde aan die dood afgestaan. Wat ons omstandighede ook al is, as ons opreg van hart is, kan ons Jehovah in gebed nader en hom smeek om ons barmhartig te wees. Jehovah sal ‘hom neerbuig’ om ons raak te sien en na ons gebede te luister. Die geïnspireerde psalmis het geskryf: “Die oë van Jehovah is op die regverdiges, en sy ore is tot hulle hulpgeroep” (Psalm 34:15). Raak dit nie jou hart wanneer jy oor hierdie innemende eienskap van Jehovah, naamlik nederigheid, nadink nie?
[Prente op bladsy 30]
Net soos Jehovah Dawid se gebede verhoor het, is hy vandag bereid om ons gebede te verhoor