’n Brief aan Noag
“LIEWE Noag, ek het al baie keer in die Bybel van jou gelees en hoe jy ’n ark gebou het waarin jy en jou gesin deur die Vloed heen gered is.”
So begin ’n brief van ’n 15-jarige meisie met die naam Minnamaria wat deelgeneem het aan ’n skryfkompetisie vir leerlinge tussen 14 en 21 jaar. Die wedstryd is gereël deur die Finse Posdiens, die Federasie vir Finse Moedertaalonderwysers en die Finse Literatuurvereniging. Die deelnemers moes ’n brief skryf na aanleiding van ’n boek wat hulle gelees het. Dit kon aan die skrywer van die boek of ’n karakter daarin gerig word. Die onderwysers het meer as 1 400 van hulle leerlinge se briewe gekies en dit aan die beoordelaars van die wedstryd gestuur. Die beoordelaars het toe die beste, die tien tweede beste en die tien derde beste opstelle gekies. Minnamaria was verheug toe haar brief in die derde kategorie geplaas is.
Waarom het Minnamaria, ’n tienderjarige leerling, haar brief aan Noag gerig, ’n man wat sowat 5 000 jaar gelede gelewe het? Sy sê: “Die Bybel was die eerste boek waaraan ek gedink het. Ek ken die Bybelkarakters baie goed. Ek het al soveel oor hulle gelees dat dit vir my is asof hulle lewe. Noag was my keuse omdat sy lewe so opwindend en anders was as myne.”
Minnamaria se brief aan Noag sluit af met die woorde: “Jy is nog steeds ’n voorbeeld van geloof en gehoorsaamheid. Jou lewe spoor almal aan wat die Bybel lees, om hulle geloof uit te leef.”
Hierdie brief van ’n jong Bybelleser lig duidelik toe dat die Bybel waarlik ‘lewend is en krag uitoefen’ op mense, jonk sowel as oud.—Hebreërs 4:12.