Met die Bybel se hulp het hy versoeking weerstaan
Daar is vandag soveel versoekings in die wêreld. Dit is nie maklik om Bybelstandaarde te handhaaf nie. Dit kan byvoorbeeld ’n uitdaging wees om gehoor te gee aan die Bybel se raad: “Vlug vir die hoerery.”—1 Korintiërs 6:18.
Een van Jehovah se Getuies, wat ons Sebastian sal noem, het vir ’n Skandinawiese maatskappy in Pole gewerk. Hy moes hard stry om sy onkreukbaarheid te handhaaf.
Sebastian het bekend gestaan as een van Jehovah se Getuies. Die direkteure het sy hardwerkendheid en karaktervastheid hoog op prys gestel en hom verskeie voorregte gegee. Dit het egter duidelik geword dat hierdie voorregte sakevergaderinge ingesluit het waar daar twyfelagtige vermaak sou wees.
Sebastian het weldra sy bedenkinge gehad. “My baas weet dat ek een van Jehovah se Getuies is. Daarom vertrou hy my en kan hy op my staatmaak. As ek weier om daaraan deel te hê, sal ek die werk verloor, wat so moeilik was om te vind. Dalk kan ek net ’n waarnemer wees?”
Daarna het Sebastian nog meer uitgevind. Daar sou van hom verwag word om na buitelandse kliënte “om te sien” deur te reël dat “meisies” hulle saans vir onsedelike doeleindes vergesel. Wat sou hy doen?
Sebastian het besluit om die direkteur te herinner aan sy Bybelse standpunt oor onsedelikheid. Dit het weldra duidelik geword dat Sebastian nie inpas nie en dat hy die een of ander tyd sou moes bedank. Hy het ’n nuwe werk gekry met ’n laer salaris, maar sonder sulke versoekings. Nou het hy ’n skoon gewete.
Wat sou jy doen as iemand druk op jou plaas om deel te hê aan onsedelikheid of dit goed te keur? Sou jy bereid wees om ’n drastiese verandering te maak? Dit is wat Josef van die ou tyd gedoen het, soos in Genesis 39:7-12 opgeteken is.