God se knegte is soos bome in watter opsigte?
DIE psalmis het van iemand gepraat wat behae skep in Bybelbeginsels en dit in sy lewe toepas, toe hy gesê het: “Hy sal beslis word soos ’n boom wat by waterstrome geplant is, wat sy vrugte op sy tyd gee en waarvan die blare nie verwelk nie, en alles wat hy doen, sal suksesvol wees” (Psalm 1:1-3). Waarom is hierdie vergelyking gepas?
Bome kan baie lank lewe. Byvoorbeeld, sommige olyfbome in die Mediterreense streek is glo tussen een- en tweeduisend jaar oud. Die kremetartbome van Sentraal-Afrika word ook baie oud, en daar is ’n stekelden in Kalifornië wat blykbaar ongeveer 4 600 jaar oud is. In ’n woud is volwasse bome dikwels van groot nut vir hulle omgewing. Hoë bome voorsien byvoorbeeld beskermende skaduwee aan jong boompies, en die blare wat van die bome afval, verryk die grond onder hulle.
Die hoogste bome in die wêreld word gewoonlik gevind waar hulle saam in woude groei en waar individuele bome mekaar ondersteun. Aangesien hulle wortels waarskynlik verstrengel is, kan ’n paar bome saam baie beter in ’n storm bly staan as ’n enkele boom wat alleen in ’n grasland staan. ’n Groot wortelstelsel stel ’n boom ook in staat om genoeg water en voedingstowwe uit die grond te verkry. In sommige gevalle dring die wortels dieper in die grond in as wat die boom hoog is, of die wortels is sywaarts baie wyer uitgesprei as die boom se takke.
Die apostel Paulus het moontlik na ’n boom verwys toe hy verduidelik het dat Christene moet “voortgaan om in eenheid met hom [Christus] te wandel, terwyl [hulle] in hom gewortel is en opgebou word en in die geloof standvastig gemaak word” (Kolossense 2:6, 7). Ja, Christene kan net vasstaan as hulle stewig in Christus gewortel is.—1 Petrus 2:21.
In watter ander opsigte kan God se knegte met bome vergelyk word? Wel, soos bome in ’n boord ondersteuning van nabygeleë bome ontvang, ontvang almal wat na aan die Christengemeente bly, ondersteuning van medegelowiges (Galasiërs 6:2). Getroue, ryp Christene wat diep geestelike wortels het, help nuwe gelowiges om ten spyte van stormagtige teenstand standvastig in die geloof te bly (Romeine 1:11, 12). Nuwe Christene kan in die beskermende “skaduwee” van meer ervare knegte van God floreer (Romeine 15:1). En al die lede van die wêreldwye Christengemeente vind baat by die versterkende geestelike voeding wat deur die “groot bome van regverdigheid”, die gesalfde oorblyfsel, voorsien word.—Jesaja 61:3.
Hoe opwindend is dit tog dat al God se knegte die vooruitsig het om die vervulling van die belofte in Jesaja 65:22 te ondervind, wat sê: “Die dae van my volk sal wees soos die dae van ’n boom.”
[Foto-erkenning op bladsy 28]
Godo-Foto