Koninkryksverkondigers berig
’n Televisieprogram het daartoe gelei dat sy God verheerlik
DIE apostel Paulus het gesê: “Party verkondig die Christus . . . deur afguns en wedywer, maar ander ook deur welwillendheid” (Filippense 1:15). By tye het selfs diegene wat probeer om Jehovah se knegte in ongunstige lig te stel, regskapenes al onwetend na die waarheid gerig.
In November 1998 was daar op die Franse nasionale televisie ’n dokumentêre program met beeldmateriaal oor Bethel, die takkantoorfasiliteite van Jehovah se Getuies in Louviers, Frankryk. Ondanks die uiteenlopende reaksies wat die program uitgelok het, het dit op onverwagse maniere positiewe resultate opgelewer.
Onder diegene wat na die program gekyk het, was Anna-Paula, wat net 60 kilometer van Bethel af gewoon het. Anna-Paula, ’n geskeide moeder met twee kinders, was op soek na werk. Die volgende oggend het sy dus Bethel geskakel om oor die moontlikheid van werk navraag te doen. “Ek het die indruk gekry dat dit ’n heilsame plek is en dat die werk wat daar gedoen word, nuttig is”, het sy gesê. Hoe verbaas was sy tog om te hoor dat almal wat by Bethel dien, bedienaars is wat vrywillig hulle tyd aanbied! Ná ’n kort gesprek oor die bedrywighede van Jehovah se Getuies het sy ingestem dat ’n Getuie haar besoek.
Toe Léna, ’n voltydse bedienaar in die plaaslike gemeente, haar besoek, het ’n lang gesprek gevolg, en Anna-Paula het die boek Kennis wat tot die ewige lewe leia by haar geneem. Teen die volgende besoek het Anna-Paula reeds die boek van voor tot agter gelees en ’n klomp vrae gehad. Sy het geredelik ingestem om die Bybel te studeer. Anna-Paula het gesê: “Vir my was dit die geleentheid om die Woord van God te ontdek. Ek het nog nooit tevore ’n Bybel in my hande gehad nie.”
In Januarie het Anna-Paula Bethel besoek en die daaropvolgende week het sy haar eerste Christelike vergadering bygewoon. Kort daarna het sy begin om die Bybel met haar kinders te studeer en vir haar vriende te getuig. “Ek kon nie die dinge wat ek leer, vir myself hou nie”, sê sy. “Ek wou mense van Bybelwaarhede vertel en hulle vertroos.” Nadat Anna-Paula daarin geslaag het om ’n aantal persoonlike probleme te oorkom, het sy vergaderinge gereeld begin bywoon. Sy het vinnig vordering gemaak en is op 5 Mei 2002 gedoop.
Wat meer is, as gevolg van Anna-Paula se goeie voorbeeld en ywerige predikingswerk het haar moeder die Bybel begin studeer en is sy kort daarna gedoop. “Ek kan nie my vreugde in woorde uitdruk nie”, sê Anna-Paula. “Ek dank Jehovah elke dag dat hy in my lewe gekom het en vir al die seëninge wat hy op my uitgestort het.”
[Voetnoot]
a Uitgegee deur Jehovah se Getuies.
[Prente op bladsy 8]
Bo: Anna-Paula
Onder: Ingang van die Franse takkantoor