‘Moenie onder ’n ongelyke juk kom nie’
SOOS jy hier kan sien, lyk die kameel en die bul wat saam ploeg, baie ongemaklik. Die juk waaronder hulle ingespan is—en wat bedoel is vir twee diere wat ewe groot en ewe sterk is—laat albei diere ly. Uit besorgdheid oor die welsyn van sulke trekdiere het God vir die Israeliete gesê: “Jy mag nie met ’n bul en ’n esel saam ploeg nie” (Deuteronomium 22:10). Dieselfde beginsel is ook van toepassing op ’n bul en ’n kameel.
Normaalweg sou ’n boer dit nie aan sy diere doen nie. Maar as hy nie twee bulle gehad het nie, het hy dalk twee beskikbare diere onder ’n juk ingespan. Dit is blykbaar wat die 19de-eeuse boer op hierdie foto besluit het om te doen. Omdat die diere nie ewe groot en ewe sterk is nie, sal die swakker dier sukkel om by te hou en die sterker dier ’n groter las hê om te dra.
Die apostel Paulus het die illustrasie van ’n ongelyke juk gebruik om ’n belangrike les te leer. “Moenie saam met ongelowiges onder ’n ongelyke juk kom nie”, het hy geskryf. “Want watter gemeenskap het regverdigheid en wetteloosheid? Of watter deelgenootskap het lig met duisternis?” (2 Korintiërs 6:14). Hoe kon ’n Christen onder ’n ongelyke juk kom?
Een manier sou wees as ’n Christen ’n huweliksmaat kies wat nie sy of haar oortuigings deel nie. So ’n verbintenis sal ongemak vir albei partye veroorsaak, omdat die paartjie oor fundamentele kwessies sal verskil.
Toe Jehovah die huwelik ingestel het, het hy die vrou die rol as “’n komplement” gegee (Genesis 2:18). Deur die profeet Maleagi het God eweneens na ’n vrou verwys as ’n “metgesel” (Maleagi 2:14). Ons Skepper wil hê dat egpare saam moet trek in dieselfde geestelike rigting, terwyl hulle die laste deel en die voordele saam geniet.
’n Christen wat “net in die Here” trou, toon respek vir ons hemelse Vader se raad (1 Korintiërs 7:39). Dit lê ’n grondslag vir ’n verenigde huwelik, wat lof en eer aan God kan bring omdat albei huweliksmaats hom as ‘ware jukgenote’ in ’n spesiale sin dien.—Filippense 4:3.
[Foto-erkenning op bladsy 32]
Kameel en bul: From the book La Tierra Santa, Volume 1, 1830