Wanneer beloftes gewaarborg is
DIE geskiedenis is vol verbroke beloftes. Nasies het dikwels versuim om te bly by nieaanvalsverdrae wat hulle plegtig onderteken het, en dit het hulle mense in verskriklike oorloë gedompel. Napoleon het eenkeer gesê: “Regerings hou slegs hulle beloftes wanneer hulle gedwing word om dit te doen of wanneer dit tot hulle voordeel sal wees.”
Wat van beloftes wat deur individue gemaak word? Hoe teleurstellend is dit tog wanneer iemand nie sy woord hou nie! Veral as dit iemand is wat jy ken en vertrou. Mense is natuurlik dikwels nie in staat of nie bereid om hulle beloftes na te kom nie.
Wat ’n verskil is daar tog tussen die beloftes van mense en dié van God! God se beloftes is volkome betroubaar en geloofwaardig. Enige belofte wat deur Jehovah God gemaak word, is gewaarborg. Dit sal vir seker vervul word. Jesaja 55:11 sê aangaande God se onfeilbare woord: “So sal my woord wees wat uit my mond uitgaan. Dit sal nie sonder resultate na my toe terugkeer nie, maar dit sal beslis doen wat my behaag en sal beslis sukses behaal in alles waarvoor ek dit gestuur het.”
Hoe moet ons derhalwe God se beloftes beskou wat in die Bybel opgeteken is? Ons kan beslis ons vertroue daarin stel. Die apostel Johannes het byvoorbeeld geskryf: “Kyk! Die tent van God is by die mensdom, en hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volke wees. En God self sal by hulle wees. En hy sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan” (Openbaring 21:3, 4). Jy kan hierdie seëninge geniet as jy in ooreenstemming met Jesus se woorde optree: “Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus.”—Johannes 17:3.