Ware aanbidding verenig ’n gesin
MARIA was 13 jaar oud toe sy en haar jonger sussie, Lucy, van Jehovah by ’n familielid gehoor het. Hy het ook die hoop van ’n paradys op aarde aan hulle verduidelik. Dit het hulle nuuskierigheid geprikkel, en hulle is saam met hom na die Koninkryksaal van Jehovah se Getuies. Die duidelike onderrigting wat daar gegee is, het Maria beïndruk. Dit was so anders as die kerk, waar hulle feitlik net gesing het! Kort daarna het die kinders die Bybel saam met een van Jehovah se Getuies begin studeer.
Hulle ouer broer, Hugo, het in filosofie en evolusie belanggestel. Hy het homself as ’n ateïs beskou. Maar terwyl hy sy diensplig gedoen het, het hy die boek Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping? a gelees. Hy het antwoorde op vrae gevind wat geen ander godsdiens hom kon gee nie. Nadat hy sy diensplig voltooi het, het hy sy nuutgevonde geloof in God begin versterk deur die Bybel te bestudeer en vergaderinge saam met sy susters by te woon. Maria en Lucy is in 1992 gedoop, twee jaar nadat hulle die eerste keer van die waarheid gehoor het, en hulle broer is twee jaar later gedoop.
Intussen het hulle ouers, wat Katolieke tradisies streng nagevolg het, min belangstelling in die waarheid getoon. Hulle het Jehovah se Getuies as lastig beskou, hoewel hulle beïndruk was met die goeie maniere en beskeie kleredrag van die jong Getuies wat hulle kinders huis toe genooi het. Die kinders het ook etenstye vir hulle ouers vertel van die dinge wat hulle by die vergaderinge geleer het, en dit het hulle ouers nuuskierig gemaak.
Albei die ouers het egter belanggestel in die toorkuns. Die pa was ’n dronkaard en het die ma geslaan. Die gesin was op die punt om te verbrokkel. Toe het die pa twee weke in die tronk deurgebring weens sy drinkery. In die tronk het hy die Bybel begin lees. Terwyl hy gelees het, het hy op Jesus se woorde oor die teken van die laaste dae afgekom. Dit het soveel vrae by hom laat ontstaan dat hy en sy vrou na die Koninkryksaal toe gegaan en tot ’n tuisbybelstudie ingestem het. Toe hulle die waarheid leer, het hulle al hulle boeke oor die toorkuns vernietig, en hulle is bevry van demoonaanvalle deur Jehovah se naam aan te roep. Hulle het groot veranderinge in hulle persoonlikhede begin aanbring.
Kan jy jou voorstel hoe hartroerend dit vir Maria en Lucy moes gewees het om te sien hoe Hugo hulle ouers doop by een van die streekbyeenkomste in Bolivia in 1999? Sowat nege jaar het verloop sedert Maria en Lucy die eerste keer van Jehovah en sy beloftes gehoor het. Hulle is nou saam met Hugo in die voltydse bediening. Hoe gelukkig is hulle tog dat ware aanbidding hulle gesin verenig het!
[Voetnoot]
a Uitgegee deur Jehovah se Getuies.