Vertroosting vir dié wat om hulp roep
DIE Bybel is nie ’n handboek oor geestesgesondheid nie. Maar dit bied ons vertroosting en help ons om die lewe ten spyte van probleme te geniet. Die Skrif is egter realisties wanneer dit sê: “Die mens, uit ’n vrou gebore, lewe ’n kort rukkie en is sat van ontsteltenis” (Job 14:1). Ons eie onvolmaaktheid is die oorsaak van party van ons beproewinge. Maar wie is hoofsaaklik verantwoordelik vir menselyding?
Die Bybel identifiseer daardie persoon as ’n bose gees wat Duiwel en Satan genoem word. Hy ‘mislei die hele bewoonde aarde’ en veroorsaak baie van die probleme wat die mensdom teister. Maar die Bybel sê ook vir ons dat sy tyd min is (Openbaring 12:9, 12). Binnekort gaan God ingryp om ’n einde te maak aan al die benoudheid wat Satan oor die aarde se bewoners gebring het. Volgens die Bybel sal God se beloofde nuwe wêreld van regverdigheid alle wanhoop uit die weg ruim.—2 Petrus 3:13.
Hoe vertroostend is dit tog om te weet dat menselyding net tydelik is! Onder die heerskappy van God se hemelse Koninkryk in die hande van Jesus Christus sal onregverdigheid en lyding iets van die verlede wees. Aangaande God se aangestelde Koning sê die Skrif: “Hy sal die arme verlos wat om hulp roep, ook die geteisterde en elkeen wat geen helper het nie. Hy sal jammer voel vir die geringe en die arme, en die siel van die armes sal hy red. Van onderdrukking en van geweld sal hy hulle siel verlos, en hulle bloed sal kosbaar wees in sy oë.”—Psalm 72:12-14.
Die tyd vir die vervulling van hierdie profetiese woorde is baie naby. Ons kan die ewige lewe geniet op ’n paradysaarde waar wonderlike toestande sal heers (Lukas 23:43; Johannes 17:3). Kennis van hierdie vertroostende skriftuurlike beloftes bied hoop en vertroosting vir dié wat om hulp roep.
[Foto-erkenning op bladsy 32]
Neerslagtige meisie: Photo ILO/J. Maillard