Kies die ewige lewe
MENSE het nog nooit soveel keuses gehad nie. Ons kan byvoorbeeld dikwels kies watter klere ons wil dra, watter kos ons wil eet en waar ons wil werk en woon. In baie wêrelddele is dit ook algemeen om self jou huweliksmaat te kies. Die Bybel stel ons egter voor ’n keuse wat alle ander oortref—’n keuse wat die ganse mensdom het.
Die Bybel sê: “Wie vir regverdigheid vasstaan, het die lewe in die vooruitsig, maar wie najaag wat sleg is, sy vooruitsig is sy eie dood” (Spreuke 11:19). En Jesus Christus het gesê: “Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus.”—Johannes 17:3.
Ja, ons Skepper gee ons die geleentheid om ’n weg te kies wat tot die ewige lewe kan lei! Wat moet ons doen om die ewige lewe te verkry?
“Op die weg van regverdigheid is lewe”, sê die Bybel (Spreuke 12:28). Ons kan onder die regverdiges wees wat op die weg na die ewige lewe is. Hoe? Deur seker te maak dat ons volgens God se wil en sy gebooie lewe (Matteus 7:13, 14). Mag ons derhalwe die regte keuse maak en God se gawe van die ewige lewe ontvang.—Romeine 6:23.