Hoe belangrik is liefderyke goedhartigheid?
“WAT begeerlik is in die mens, is sy liefderyke goedhartigheid”, sê die Bybel (Spreuke 19:22). Ja, dade van goedhartigheid wat uit liefde voortspruit, is beslis begeerlik. Die uitdrukking “liefderyke goedhartigheid” in die Bybel verwys egter na goedhartigheid wat gegrond kan wees op ’n bestaande verhouding, soos een wat ontstaan het weens ’n vorige daad van goedhartigheid deur ’n ander. Dit sluit dus die gedagte van lojaliteit in.
Koning Joas van Juda het nie hierdie begeerlike eienskap aangekweek nie. Hy was baie dankbaarheid verskuldig aan sy tante en sy oom, Jojada. Toe Joas nog nie eers ’n jaar oud was nie, het sy goddelose ouma haarself koningin gemaak en al Joas se broers, wat troonopvolgers sou wees, doodgemaak. Sy het egter nie die klein Joas doodgemaak nie, omdat sy tante en oom hom weggesteek het. Hulle het hom ook God se Wet geleer. Toe Joas sewe was, het sy oom sy gesag as hoëpriester gebruik om die goddelose koningin tereg te stel en Joas op die troon te plaas.—2 Kronieke 22:10–23:15.
Jong Joas was ’n goeie koning tot die dood van sy oom, maar daarna het hy afgode begin aanbid. God het Sagaria, wat die seun van Jojada was, gestuur om Joas oor sy afvalligheid te waarsku. Joas het Sagaria laat stenig. Wat ’n skokkende, dislojale daad teenoor ’n familie aan wie hy soveel verskuldig was!—2 Kronieke 24:17-21.
Die Bybel sê: “Koning Joas het nie gedink aan die liefderyke goedhartigheid wat [Sagaria se vader] teenoor hom bewys het nie, sodat hy sy seun doodgemaak het.” Terwyl Sagaria besig was om te sterf, het hy gesê: “Mag Jehovah daarop let en dit terugeis.” In ooreenstemming met Sagaria se woorde het Joas baie siek geword en is hy deur sy eie knegte om die lewe gebring.—2 Kronieke 24:17-25.
In teenstelling met die uiteinde wat koning Joas gehad het, sal almal wat dié raad volg, ’n geseënde toekoms hê: “Laat liefderyke goedhartigheid en waaragtigheid jou nie verlaat nie. . . . En vind so guns . . . in die oë van God en van die mens.”—Spreuke 3:3, 4.