Sy is beloon vir haar volharding
Talle regskapenes wil graag hê dat hulle geliefdes van God se voornemens moet leer sodat hulle gelukkig kan wees. Wanneer iemand hom aan God toewy, is daar heel moontlik ander, jonk sowel as oud, wat weens hulle goeie gedrag tot daardie wyse besluit bygedra het. Dit was die geval met Jearim, ’n tienermeisie in Mexiko, wat die volgende briefie by ’n spesiale byeenkomsdag van Jehovah se Getuies ingegee het:
“Ek wil graag my vreugde en geluk met julle deel. Laat ek julle vertel waarom. Agtien jaar gelede, nog voor my geboorte, het my ouers die waarheid geleer. My ma het vordering gemaak, en later het ek en my broer ook. Ons het saam tot Jehovah gebid dat my pa ook op die weg na die lewe sou begin wandel. Agtien jaar het verbygegaan, en vandag is ’n baie spesiale dag vir ons. My pa gaan gedoop word. Ek dank Jehovah dat hy nie die einde gebring het voor hierdie langverwagte oomblik nie. Dankie, Jehovah!”
Die gesin van hierdie jong meisie het ongetwyfeld deur die jare heen die beginsels in die geïnspireerde raad van 1 Petrus 3:1, 2 in gedagte gehou, wat sê: “Julle, vrouens, [moet] onderdanig wees aan julle eie mans, sodat, as sommige nie aan die woord gehoorsaam is nie, hulle sonder ’n woord deur die gedrag van hulle vrouens gewen kan word, omdat hulle ooggetuies was van julle kuis gedrag tesame met diep respek.” En die jong Jearim het beslis die woorde van Deuteronomium 5:16 toegepas: “Eer jou vader en jou moeder, net soos Jehovah jou God jou beveel het.” Dit het beslis seëninge vir Jearim en haar gesin meegebring omdat hulle hierdie beginsels toegepas en geduldig op Jehovah gewag het.