Ons almal het lof nodig
DIE dag het goed afgeloop vir die klein dogtertjie. Hoewel sy op ander dae raas gekry het, was sy op hierdie spesifieke dag besonder soet. Maar daardie aand, nadat die dogtertjie in die bed gesit is, het haar ma haar hoor huil. Toe haar ma wou weet wat fout is, het sy tussen die trane deur gesê: “Was ek dan nie vandag ’n soet dogtertjie nie?”
Daardie vraag het haar ma diep getref. Sy was altyd gou om met haar dogter te raas. Maar nou het sy nie eers een woordjie van waardering uitgespreek nie, al het sy opgemerk hoe hard haar dogtertjie probeer het om soet te wees.
Klein dogtertjies is nie die enigstes wat lof en versekering nodig het nie. Ons almal het dit nodig—net soos ons raad en teregwysing nodig het.
Hoe voel ons wanneer ons opreg geprys word? Laat dit ons nie goed voel en helder dit nie ons dag op nie? Dit laat ons moontlik voel dat iemand ons pogings raakgesien het, dat iemand omgee. Dit verseker ons dat wat ons gedoen het, die moeite werd was, en dit spoor ons aan om in die toekoms weer ons bes te doen. ’n Mens kan verstaan waarom opregte lof ons dikwels aangetrokke laat voel tot die persoon wat die tyd neem om iets aanmoedigends te sê.—Spreuke 15:23.
Jesus Christus het besef hoe belangrik dit is om ander te prys. In sy gelykenis van die talente het die heer (wat Jesus self afbeeld) die twee getroue slawe elk opreg geprys en gesê: “Mooi so, goeie en getroue slaaf!” Hoe bemoedigend tog! Al het hulle vermoëns en prestasies grootliks verskil, het hulle gelyke lof ontvang.—Matteus 25:19-23.
Laat ons dus die ma van daardie klein dogtertjie onthou. Ons hoef nie te wag tot ander in trane is voordat ons hulle prys nie. Ons wil eerder op die uitkyk wees na geleenthede om ander te prys. Ja, ons het goeie rede om ander by elke gepaste geleentheid te prys.