Die toekoms—Jy kan weet wat dit inhou!
Die meeste mense dink ernstig na oor die toekoms. Hulle hou daarvan om te beplan, verstandig te belê en om veilig te voel. Maar is daar dalk ’n manier waarop ons seker kan wees van wat môre inhou?
MENSE het al met allerhande dinge geëksperimenteer in ’n poging om uit te vind wat die toekoms inhou. Sosioloë wat toekomskundiges genoem word, ontleed huidige neigings en maak hulle voorspellings op grond hiervan. Ekonome doen dieselfde in hulle studieveld. Astroloë en waarsêers maak staat op horoskope, kristalballe en die okkulte, en hulle het ’n groot aanhang. Die Franse astroloog Nostradamus is byvoorbeeld nog steeds gewild, hoewel hy al eeue lank dood is.
Al hierdie sogenaamde profete is heeltemal onbetroubaar en teleurstellend. Waarom? Omdat hulle Jehovah God en sy Woord, die Bybel, ignoreer. Daarom kan hulle nie basiese vrae soos die volgende beantwoord nie: ‘Waarom kan ek seker wees dat die dinge wat in die Bybel voorspel is wel gaan gebeur? Hoe pas dit in God se voorneme met die mens in? Hoe kan ek en my gesin by hierdie profesieë baat vind?’ Die Bybel beantwoord hierdie vrae.
Bybelprofesieë is ook in baie ander opsigte voortrefliker. Anders as astrologiese voorspellings maak dit voorsiening vir persoonlike wilsvryheid. Niemand is dus ’n slagoffer van die noodlot nie (Deuteronomium 30:19). Geskrifte soos dié van Nostradamus het geen sedelike waarde nie, en hulle verberg hierdie leemte met geheimsinnigheid en sensasiewekkende materiaal. Maar Bybelprofesieë het ’n stewige sedelike grondslag. Dit verduidelik waarom God gaan doen wat hy hom voorgeneem het (2 Kronieke 36:15). En Jehovah se profesieë misluk nooit nie, aangesien “God . . . nie kan lieg nie” (Titus 1:2). Mense wat deur God se Woord gerig word, lei dus ’n verligte, doelgerigte en gelukkige lewe sonder dat hulle hulle kosbare tyd en middele op nuttelose strewes vermors.—Psalm 25:12, 13.
Dít en baie ander punte is bespreek by die “God se profetiese woord”-streekbyeenkomste van Jehovah se Getuies wat in 1999/2000 regoor die wêreld gehou is. Toesprake, onderhoude, demonstrasies en ’n Bybeldrama het die gehoor se aandag gevestig op die wonderlike geestelike erfenis van diegene wat God se profetiese woord bestudeer en toepas. Die volgende artikel sal party van die opwindende byeenkomshoogtepunte hersien.