Hoe om die uitdagings van ouerskap die hoof te bied
DIT is vandag vir ouers ’n groot uitdaging om kinders, en veral tieners, groot te maak. The Gazette van Montreal, Kanada, berig dat dit “die norm vir adolessente” geword het om met alkohol en dwelms te eksperimenteer. Dit beklemtoon dat ouers “’n verantwoordelikheid [het] om wakker te wees vir veranderinge in [hulle] tieners se gedrag”.
Waarna moet ouers oplet wat vir hulle tekens kan wees van sulke probleme tydens adolessensie? Party fisiese, emosionele en maatskaplike waarskuwingstekens wat deur die Amerikaanse Akademie vir Kinder- en Adolessentepsigiatrie geïdentifiseer is, is onder meer voortdurende moegheid, verandering in persoonlikheid en temperament, baie tyd wat in die slaapkamer agter ’n toe deur deurgebring word, aggressiewe gedrag en om met die gereg te bots.
Hoe kan ouers hulle kinders teen sulke skadelike eksperimente en die negatiewe gevolge daarvan beskerm? Dr. Jeffrey L. Derevensky, van McGill-universiteit, glo dat openhartige kommunikasie en die bevordering van wedersydse respek gedurende die wordingsjare van ’n kind dalk later probleme sal verminder. The Gazette voeg by dat tieners steeds “die leiding, ondersteuning, stabiliteit en liefde wat hulle ouers voorsien”, nodig het, selfs al kom ’n begeerte na meer onafhanklikheid gedurende adolessensie na vore. Hierdie opmerkings kom ooreen met ’n Bybelspreuk wat sê: “Oefen die seun volgens die eis van sy weg; dan sal hy, ook as hy oud word, daar nie van afwyk nie” (Spreuke 22:6). God spoor ouers aan om voorbeelde, vriende, kommunikeerders en onderrigters te wees.—Deuteronomium 6:6, 7.