Kan die Bybel ons vandag help?
“IN DIE geheel gesien is omtrent 1 persent van die Bybel die moeite werd om te lees, maar die res is ontoepaslik en verouderd.” Dit is wat een jong man gesê het. Baie stem moontlik met hom saam. Hoewel die Bybel nog steeds regoor die wêreld ’n trefferverkoper is, skenk miljoene mense baie min aandag daaraan en is hulle onbekend met die leringe wat daarin voorkom.
In die Duitse koerant Süddeutsche Zeitung se Kersuitgawe vir 1996 het dit gesê dat die Bybel “al hoe minder lesers het. In dié tyd van die natuurwetenskappe en toenemende sekularisasie is Bybelverslae blykbaar vir baie mense vreemd en moeilik om te verstaan.” Opnames bevestig hierdie berig. Party studies toon dat baie kinders nie eers presies weet wie Jesus is nie. In een opname kon minder as die helfte van die mense met wie daar ’n onderhoud gevoer is die Bybelverhale van die verlore seun en die barmhartige Samaritaan vertel.
’n Publikasie van die Switserse Evangeliese Kerk, Reformiertes Forum, sê dat die vraag na Bybels in Switserland nie meer is wat dit voorheen was nie. Selfs onder diegene wat ’n Bybel het, vergaar dit dikwels net stof op die rak. In Brittanje is die situasie dieselfde. Hoewel die meeste mense ’n Bybel het, lees die oorgrote meerderheid, volgens een opname, dit byna nooit nie.
Aan die ander kant is daar miljoene mense regoor die wêreld wat anders oor die Bybel voel. Hulle beskou dit as God se Woord en vir hulle is dit waardevol en nuttig. Daarom lees hulle dit gereeld. Een jong vrou het geskryf: “Ek probeer elke dag een of twee hoofstukke van die Bybel lees. Ek geniet dit werklik baie.” Hierdie mense let noukeurig op wat die Bybel leer en hulle probeer die raad daarvan in hulle lewe toepas. Hulle glo dat die Bybel hulle in vandag se wêreld vol probleme kan help.
Wat is jou mening? Is die Bybel ontoepaslik in ons moderne tyd? Of is dit waardevol en nuttig? Kan die Bybel ons vandag help?