“Karaktervastheid weens geloof”
IN 1998 is ’n nuwe Franse boek vrygestel met die titel Les Témoins de Jéhovah face à Hitler (Jehovah se Getuies kom voor Hitler te staan), wat deur Guy Canonici geskryf is en deur kritici met groot byval begroet is. Die hooggeagte Franse geskiedskrywer François Bédarida het in sy voorwoord by die boek geskryf: “Dit is ’n baie welkome boek. Nie net omdat dit ’n leemte vul nie, maar omdat dit op die regte tyd gekom het. . . . Wie buiten vakkundiges weet wat Jehovah se Getuies onder die Derde Ryk deurgemaak het? En tog het hulle regdeur die 12 jaar lange regime voortdurend wrede en gewelddadige vervolging verduur. Hulle het ook die gruwels van die konsentrasiekampe ondervind. Hulle het ook swaar gely weens hulle geloof en oortuigings. Waarom het die geskiedenis van hierdie Christene vergeet? . . .
“Waarom was daar sulke wrede en sistematiese vervolging van ’n klein, verspreide en onskadelike sekte? Dít is die kern van die paradoks. Die Getuies in Duitsland het nie net ’n baie klein minderheid van die bevolking verteenwoordig nie—statistiek toon dat hulle sowat 20 000 was uit die meer as 60 miljoen inwoners—maar hulle was almal vredeliewende burgers wat die wet gerespekteer het en vir niemand ’n bedreiging was nie, wat net wou werk en hulle kinders behoorlik wou grootmaak. . . .
“Hierdie vervolging is gestuit deur die onversetlike, seëvierende geestelike weerstand van gelowiges, wat in staat was om die eksterne druk teë te werk met die innerlike krag van hulle geloof in Jesus Christus, van die fisiese geweld van die polisiestaat af—tot hulle heldemoed en martelaarskap toe.”
Die verhaal van Jehovah se Getuies wat te midde van godsdiensonverdraagsaamheid as martelaars vir hulle Christelike geloof gely het, is ’n treffende verhaal. In ’n toonaangewende Franse Katolieke koerant, La Croix, se resensie van die boek het dit hierdie interessante kommentaar gehad: “Uit hulle redelik onbekende geskiedenis het Guy Canonici oorvloedige getuienis versamel wat ’n mens sprakeloos laat as jy die karaktervastheid weens geloof sien wat in die eenvoudigste woorde uitgedruk is, geloof wat selfs onder kinders tot die einde toe onwrikbaar was. Hierdie gedagtenis behoort ’n agtergrond te voorsien vir die huidige debat oor die Christelikheid van Jehovah se Getuies.”