“Julle het my indruk van Jehovah Se Getuies verander”
DIT is hoe ’n Poolse gevangenisbeampte gereageer het op ’n artikel oor die werk van Jehovah se Getuies, wat in ons nommer van 15 Oktober 1998 verskyn het. Die artikel “Wanneer harte van klip op die waarheid reageer” het gehandel oor die sukses wat Jehovah se Getuies gehad het in hulle werk onder die gevangenes in Wołów, Pole.
Voor die bogenoemde Wagtoring aan die publiek beskikbaar gestel is, is ’n spesiale vergadering op 13 September 1998 by die Wołów-gevangenis gereël om die tydskrif vir die gevangenes te gee. Diegene wat uitgenooi is om die vergadering by te woon, het plaaslike Getuies, gedoopte en ander belangstellende gevangenes en ’n hele paar gevangenisbeamptes ingesluit. Party van dié wat daar was, het die volgende opmerkings gemaak.
Jerzy, een van Jehovah se Getuies wat meer as vyf jaar gelede in die gevangenis gedoop is, het gesê: “Ek is baie bly, want ek kan vandag lees hoeveel moeite die broers van die nabygeleë gemeentes gedoen het om ons te help.” Hy het bygevoeg: “Ek probeer nog steeds om verbeteringe in my lewe aan te bring, en ek kan sien hoe Jehovah my al gevorm het.”
’n Ander gevangene, Zdzisław, het aangaande die getuieniswerk in die gevangenis gesê: “Op die oomblik is daar vier gevangenes wat hulle vir doop voorberei, en daar is steeds nuwe belangstellendes wat die vergaderinge in ons saal bywoon. Hierdie artikel is vir ons ’n kragtige motivering om meer te doen in hierdie veld.” Wat ’n positiewe gesindheid, as ’n mens in ag neem dat Zdzisław nog 19 jaar in die gevangenis moet uitdien!
Nadat ’n gevangenisbeampte die artikel oor die Wołów-gevangenis gelees het, het hy gesê: “Ons voel werklik geëerd. Ek het nooit gedink dat hierdie gevangenis sulke positiewe publisiteit in 130 tale van die wêreld sou ontvang nie. Ek hou van julle, en ek waardeer julle pogings ten behoewe van die gevangenes.” ’n Ander beampte het bygevoeg: “Julle het my indruk van Jehovah se Getuies verander. Ek het julle voorheen as godsdiensfanatici beskou. Nou sien ek dat julle beginselvaste mense is.”
Die hoof van die Wołów-gevangenis, Marek Gajos, het geglimlag en gesê: “Aan die begin het ons gedink dat julle baie min sou bereik. Ons het gedink dat julle maar net nog ’n godsdiens is wat die gevangenes graag deur middel van die Bybel wou rehabiliteer. Maar toe ons die resultate van julle eerste pogings sien, het ons besluit om ons samewerking te gee. Julle kom nou al nege jaar hierheen sonder om moeg te word, en ek waardeer werklik wat julle tot dusver gedoen het.”
Maar hoe het die ander gevangenes by Wołów op die artikel gereageer? Daar was soveel belangstelling onder die gevangenes dat die Getuies in die gevangenis se voorraad tydskrifte gou opgeraak het. Gevangenisbeamptes het ook belangstelling getoon en 40 ekstra tydskrifte vir hulleself gevra. Om in die groter aanvraag te voorsien, het plaaslike gemeentes 100 ekstra tydskrifte vir die broers in die gevangenis gegee. Terselfdertyd het meer die vergaderinge in die gevangenis begin bywoon.
Piotr Choduń, ’n gevangenisbeampte wat ten nouste met Jehovah se Getuies saamwerk, het gesê: “Ons het besluit om hierdie artikel in al die vertoonkaste in ons gevangenis uit te stal. Ons hoop dat al die gevangenes wat nog nie die Bybel saam met julle studeer nie die tydskrif sal lees.”
Die Getuies se goeie voorbeeld en hulle doelgerigte predikingswerk lewer nog steeds goeie resultate op. Buiten die 15 gevangenes wat reeds gedoop is, het 2 gevangenisbeamptes hulle lewe aan Jehovah toegewy en het nog ’n gevangenisbeampte ’n Bybelstudie gevra. Die broers wat die predikingswerk in die Wołów-gevangenis doen, gee Jehovah God natuurlik al die eer vir hulle sukses.—Vergelyk 1 Korintiërs 3:6, 7.
[Prent op bladsy 28]
Drie Getuies en ’n gevangene by die vergadering in die gevangenis se lesingsaal waar die tydskrif vrygestel is