“Gelukkig getroud met ’n dierbare vrou”
SOMS beskuldig mense Jehovah se Getuies openlik daarvan dat hulle huwelike laat verbrokkel. Maar talle suksesvolle huwelike waar net een maat een van Jehovah se Getuies is, toon dat dit beslis nie waar is nie. As lede van die gesin op die Bybel se raad ag slaan, lei dit tot gelukkige huwelike, soos die volgende brief toon wat in ’n Franse koerant gepubliseer is.
“Ek is nou al byna 28 jaar lank gelukkig getroud met ’n dierbare vrou wat een van Jehovah se Getuies is. Sy het my vyf kinders, waarvan twee nie hare is nie, met dieselfde sorg en baie liefde grootgemaak. Ek is tans ’n maatskappydirekteur met 45 werknemers en ek kan julle daarvan verseker dat sy grootliks tot my sukses in my beroep bygedra het. Toe ek dus ’n artikel in die koerant sien wat Jehovah se Getuies as ’n bedreiging vir die Lot-et-Garonne-streek uitbeeld, het ek besluit om julle van gesaghebbende getuienis te voorsien.”
Die brief sê ook: “Hulle rook nie en word nie dronk nie. Is dit ’n bedreiging? Hulle is verdraagsame Christene wat nie die reëls wat hulle volg op enigiemand afdwing nie. Hulle is eerder op baie gebiede ’n voorbeeld. . . . Hulle is nie by finansiële skandale of by dwelmhandel betrokke nie. Hulle lê nie ’n kuisheidsgelofte af nie, en ek kan julle daarvan verseker dat hulle ’n normale lewe lei. . . .
“Julle sal my heel moontlik vra: Waarom is jy dan nie self een van Jehovah se Getuies nie? Omdat ’n mens Christelike geloof en streng sedes moet hê, en dit word nie maklik onder gewone mense gevind nie.”