Onthou jy?
Was die onlangse nommers van Die Wagtoring vir jou van praktiese waarde? Dan kan jy gerus jou geheue deur middel van die volgende vrae toets:
◻ Watter twee vrae het baie Christene wat voor besluite oor werk te staan gekom het, gehelp om ’n persoonlike besluit te neem?
Die eerste belangrike vraag is: Word die sekulêre werk uitdruklik in die Bybel veroordeel? Die tweede vraag is: Sal hierdie werk ’n mens medepligtig aan ’n veroordeelde gebruik maak?—4/15, bladsy 28.
◻ In watter sin is ‘die menseskepping aan nietigheid onderwerp’? (Romeine 8:20).
Ons is “aan nietigheid onderwerp” weens die optrede van ons eerste ouers, Adam en Eva. Dit was “nie uit [ons] eie wil” of as gevolg van persoonlike individuele keuse wat dit gebeur het nie. Ons het dit geërf. Uit barmhartigheid het Jehovah ons eerste ouers toegelaat om kinders voort te bring, hoewel hulle toe net onvolmaaktheid, sonde en die dood aan hulle kon oordra. Die dood het tot alle mense deurgedring, en God het dus in daardie sin die skepping “aan nietigheid onderwerp”.—5/1, bladsy 5.
◻ Waarom is dit logies om te sê dat “die walglike ding” nog in die toekoms ‘in ’n heilige plek gaan staan’? (Matteus 24:15).
In die eertydse patroon is ‘die walglike ding wat in ’n heilige plek staan’ met die Romeinse aanval in 66 G.J. onder generaal Gallus geassosieer. Die hedendaagse parallel van daardie aanval—die begin van die “groot verdrukking”—moet nog plaasvind (Matteus 24:21). “Die walglike ding wat verwoesting veroorsaak” moet dus nog in ’n heilige plek gaan staan.—5/1, bladsye 16, 17.
◻ Hoe kan ’n werkende vader en moeder tyd vir hulle kinders inruim?
Die moeder wat ná ’n dag se werk uitgeput voel, kan haar kinders vra om ’n maaltyd saam met haar voor te berei. Die vader met ’n lang lys dinge wat hy oor naweke moet doen, kan van hierdie werkies saam met sy kinders doen.—5/15, bladsy 6.
◻ Wat moet diegene doen wat ‘in Jehovah se weg wandel’? (Jeremia 7:23).
Om in Jehovah se weg te wandel, vereis lojaliteit—’n vasbeslotenheid om hom alleen te dien. Dit vereis vertroue—onwrikbare geloof dat Jehovah se beloftes betroubaar is en vervul sal word. Om in Jehovah se weg te wandel, vereis gehoorsaamheid—dat ons nie van sy wette afwyk nie en dat ons sy hoë standaarde handhaaf (Psalm 11:7).—5/15, bladsy 14.
◻ Wat is vier belangrike verantwoordelikhede wat “gawes in die vorm van mense” kan nakom? (Efesiërs 4:8).
Hulle kan ons met teerheid reghelp, ons liefdevol opbou, tot ons eenheid in die gemeente bydra en ons moedig beskerm (Efesiërs 4:12-14).—6/1, bladsy 14.
◻ Wat kan ons leer uit Paulus se omgang met ongeveer honderd persone wat in Handelinge en in sy briewe genoem is?
Ons moet altyd met God se organisasie, ons plaaslike gemeente en ons medegelowiges saamwerk. Ons het hulle hulp, ondersteuning en bemoediging in goeie tye en in moeilike tye nodig.—6/1, bladsy 31.
◻ Watter drie redenasies kan gebruik word om ander te help om oor die Skepper te dink?
Die presisie wat in die ontsaglike heelal gesien word, die oorsprong van lewe op die aarde en die onbetwisbare uniekheid van die mensebrein, met sy verskillende vermoëns.—6/15, bladsy 18.
◻ Waarom is ’n begrip van die betekenis van die Skepper se persoonlike naam so belangrik?
God se naam beteken “Hy laat word” en beklemtoon dat hy hom dinge voorneem en optree. As ons sy naam ken en gebruik, is ons in ’n beter posisie om te verstaan dat hy sy beloftes vervul en sy voorneme daadwerklik verwesenlik.—6/15, bladsy 21.
◻ Hoe kan kinders by ’n gesinsbybelstudie betrek word?
Waar moontlik moet julle reël dat elke kind sy eie Bybel en publikasie vir die studie het. ’n Kleintjie kan gevra word om prente in die studiemateriaal te verduidelik, en ’n jong kind kan vooraf gevra word om ’n sekere teks te lees. ’n Ouer kind kan gevra word om maniere te meld waarop die studiemateriaal prakties toegepas kan word.—7/1, bladsy 15.
◻ Wat is party doelwitte wat ’n gesin by voorbereiding vir gemeentelike vergaderinge kan insluit?
(1) Dat elkeen in die gesin gereed sal wees om by die gemeentelike vergaderinge kommentaar te lewer; (2) elkeen probeer om kommentare in sy eie woorde te gee; (3) tekste in hulle kommentare insluit en (4) die materiaal noukeurig ondersoek met die doel om dit persoonlik toe te pas.—7/1, bladsy 20.
◻ Wat is ’n sleutel tot ’n gelukkige huwelik?
As ’n mens die kosbare vreugdes van ’n gelukkige huwelik wil geniet, is goeie kommunikasie onontbeerlik. Dit beteken om uiting te gee aan gevoelens en idees. En goeie kommunikasie sluit dinge in wat opbouend, verkwikkend, vol deug, lofwaardig en bemoedigend is (Efesiërs 4:29-32; Filippense 4:8).—7/15, bladsy 21.
◻ Wat is ‘Jehovah se weg’? (Psalm 25:8, 9, 12).
Hierdie weg is die weg van liefde. Dit is daarop gegrond dat ’n mens doen wat reg is volgens God se standaarde. Die Bybel noem hierdie toepassing van beginselvaste liefde “’n allesoortreffende weg” (1 Korintiërs 12:31).—8/1, bladsy 12.