Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w99 8/15 bl. 32
  • “As die sout sy krag verloor”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “As die sout sy krag verloor”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
w99 8/15 bl. 32

“As die sout sy krag verloor”

OORLOË is hieroor gevoer. Dit is as ’n ruilmiddel gebruik. In eertydse China is dit net deur goud in waarde oortref. Ja, die mensdom beskou sout al lank as ’n uiters gesogte verbruiksartikel. Tot vandag toe word dit as ’n genees- en ontsmettingsmiddel gebruik, en dit word regoor die wêreld gebruik om smaak te verbeter en as ’n preserveermiddel te dien.

Met die oog op die talle goeie eienskappe en gebruike van sout is dit nie verbasend dat dit in die Bybel figuurlik gebruik word nie. Die Mosaïese Wet het byvoorbeeld vereis dat enigiets wat op die altaar aan Jehovah geoffer is, gesout moes wees (Levitikus 2:13). Dit is nie gedoen om die smaak van die offerandes te verbeter nie, maar waarskynlik omdat sout vryheid van verdorwenheid of verval voorgestel het.

In sy bekende Bergpredikasie het Jesus Christus vir sy volgelinge gesê: “Julle is die sout van die aarde” (Matteus 5:13). Met hierdie stelling het Jesus geïmpliseer dat hulle verkondiging van God se Koninkryk aan ander moontlik ’n preserverende, of lewensreddende, invloed op hulle toehoorders sou hê. Trouens, diegene wat Jesus se woorde toegepas het, sou beskerm word teen die sedelike en geestelike verval in die gemeenskappe waarin hulle gewoon en gedien het.—1 Petrus 4:1-3.

Jesus het egter daarna die waarskuwing gegee: “Maar as die sout sy krag verloor . . . is [dit] nie meer vir enigiets anders bruikbaar as om buite gegooi te word om deur die mense vertrap te word nie.” Die Bybelgeleerde Albert Barnes het hieroor kommentaar gelewer en gesê dat die sout wat aan Jesus en sy apostels bekend was “onsuiwer en vermeng met plantaardige en gronderige stowwe was”. As die sout dus sy soutigheid verloor het, het “’n aansienlike hoeveelheid gronderige stof” dalk oorgebly. “Dit”, het Barnes gesê, “was niks werd behalwe . . . om op paadjies gegooi te word nie, soos ons gruis gebruik.”

As Christene op hierdie waarskuwing ag wil slaan, moet hulle nie ophou met hulle openbare getuieniswerk nie en oppas dat hulle nie terugval in goddelose gedragspatrone nie. Anders sal hulle geestelik agteruitgaan en kan hulle nutteloos word, soos ‘sout wat sy krag verloor het’.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel