Het jy die lewe lief?
“LAAT ek die lig sien.” Dit is wat die Italiaanse digter Giacomo Leopardi na bewering net voor sy dood aan diegene gesê het wat hom verpleeg het. Die woorde weerspieël die mens se sterk begeerte om te lewe, wat deur lig voorgestel word.
Die begeerte om te lewe, is ’n waardevolle impuls wat die meeste mense beweeg om gevare te vermy en om alles in hulle vermoë te doen om aan die lewe te bly. Hierin verskil die mens nie veel van diere nie, wat ’n sterk oorlewingsinstink het.
Maar watter soort lewe is werklik die moeite werd om te geniet en lief te hê? Dit is nie bloot ’n fisiologiese bestaan—om net asem te haal en te beweeg nie. En die beskouing dat ’n mens soveel as moontlik uit die lewe moet kry, verskaf nie werklik tevredenheid nie. Die Epikuriese filosofie, “laat ons eet en drink, want môre gaan ons sterf”, het oor die algemeen nie vir mense ’n gevoel van voldoening gegee nie (1 Korintiërs 15:32). Hoewel die mens beslis ’n aantal basiese materiële behoeftes het, stel hy ook in kulturele en maatskaplike dinge belang, benewens sy geestelike behoeftes wat verband hou met geloof in ’n Opperwese. Ongelukkig is daar honderdmiljoene, indien nie miljarde nie, wat sukkel om aan die lewe te bly weens ellendige maatskaplike en omgewingstoestande in baie dele van die aarde. Enigiemand wat homself hoofsaaklik beperk tot die bevrediging van sy fisiese behoeftes—om te eet, te drink, besittings te hê of seksuele begeertes te bevredig—lewe maar min of meer soos ’n dier en put baie min bevrediging daaruit. Hy maak nie werklik gebruik van die betekenisvoller middele wat die lewe die mens bied om sy intellek en emosies te stimuleer nie. Wat meer is, enigiemand wat net sy selfsugtige begeertes wil bevredig, benut nie die lewe ten volle nie en benadeel ook die gemeenskap waarin hy lewe, en hy bevorder nie die belange van ander nie.
’n Regter wat sake van jeugdige oortreders hanteer, bevestig dit en sê dat “krisisse wat waardes betref, die verheerliking van negatiewe rolmodelle en sukses deur vinnige en maklike verryking” geneig is om “’n oordrewe gees van mededinging te bevorder”. Dit lei tot gedrag wat skadelik is vir die gemeenskap en verwoestend is vir jongmense, veral wanneer hulle hulle tot dwelms wend.
Jy weet dat daar baie aanloklike dinge in die lewe is—vakansies op fassinerende plekke, interessante leesstof of navorsing, aangename geselskap, pragtige musiek. En daar is ander bedrywighede wat in meerdere of mindere mate bevrediging verskaf. Diegene met sterk geloof in God, en veral in die God van die Bybel, Jehovah, het verdere redes om die lewe lief te hê. Ware geloof is ’n bron van krag en kalmte wat mense kan help om moeilike tye die hoof te bied. Diegene wat in die ware God glo, kan met vertroue sê: “Jehovah is my helper; ek sal nie bang wees nie” (Hebreërs 13:6). Mense wat God se liefde ken, voel dat hy hulle liefhet. Hulle reageer op sy liefde en dit maak hulle werklik gelukkig (1 Johannes 4:7, 8, 16). Hulle kan ’n aktiewe en onselfsugtige lewe lei wat ’n bron van bevrediging is. Dit is net soos Jesus Christus gesê het: “Dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang.”—Handelinge 20:35.
Ongelukkig het die huidige lewe ook ’n ander sy. Daar is wydverspreide lyding, onregverdigheid, armoede, siekte en die dood—om maar net ’n paar van die pynlike aspekte te noem wat die lewe dikwels byna ondraaglik maak. Die ryk, magtige en wyse koning Salomo van die eertydse nasie Israel het alles gehad wat ’n mens gelukkig kan maak. En tog was daar iets wat hom gekwel het—die besef dat hy by sy dood alles wat hy deur “sy arbeid . . . met wysheid en kennis en bekwaamheid” verkry het aan iemand anders sou moes nalaat.—Prediker 2:17-21.
Soos Salomo is die meeste mense bewus van die kortstondigheid van die lewe, wat so vinnig verbygaan. Die Skrif sê dat God ‘die ewigheid in ons verstande geplaas het’ (Prediker 3:11, Byington). Hierdie ewigheidsbesef maak dat mense oor die kortstondigheid van die lewe dink. As ’n mens nie oortuigende antwoorde vind oor die betekenis van die lewe en dood nie, kan jy mettertyd oorweldig word deur gevoelens van pessimisme en nutteloosheid. Dit kan die lewe droewig maak.
Is daar antwoorde op die mens se kwellende vrae? Sal daar ooit toestande wees wat die lewe aanlokliker en meer blywend sal maak?