Die Goddelike naam in Israel gebruik
TRADISIONELE Judaïsme het eeue lank al sy volgelinge streng verbied om die Goddelike naam, Jehovah, uit te spreek. Volgens die Misjna sal enigiemand wat God se naam sê “geen deel aan die toekomstige wêreld” hê nie.—Sanhedrin 10:1.a
Op 30 Januarie 1995 het die voormalige Sefardiese hoofrabbi van Israel opsetlik die Goddelike naam uitgespreek. Hy het dit gedoen terwyl hy ’n tikkun, ’n Kabbalistiese gebed van regstelling, opgesê het. Hierdie gebed word gedoen sodat God ’n mate van harmonie in die heelal kan herstel, wat volgens die aanbidders deur bose magte ontwrig is. Die koerant Jedioth Aharonoth van 6 Februarie 1995 het gesê: “Hierdie liturgie is so ongelooflik kragtig dat die bewoording daarvan net in ’n spesiale boekie verskyn wat nie aan die publiek verkoop word nie.” Dit verleen na bewering spesiale krag aan die versoek as God se naam in hierdie konteks aangeroep word.
Dit is opmerkenswaardig dat die Bybel God se knegte beveel om die Goddelike naam, Jehovah, te gebruik (Exodus 3:15, NW; Spreuke 18:10, NW; Jesaja 12:4, NW; Sefanja 3:9, NW). Daardie naam verskyn sowat 7 000 keer in die oorspronklike Hebreeuse teks van die Bybel. Maar die Bybel waarsku teen die misbruik van God se naam. Die derde gebod van die Tien Gebooie sê: “Jy mag die naam van Jehovah jou God nie op onwaardige wyse gebruik nie, want Jehovah sal die een wat sy naam op onwaardige wyse gebruik, nie ongestraf laat bly nie” (Exodus 20:7, NW). Hoe kan God se naam op onwaardige wyse gebruik word? ’n Kommentaar deur die Joodse Uitgewersgenootskap sê dat die Hebreeuse woord wat as “op onwaardige wyse” vertaal word nie net die “ligsinnige gebruik” van die Goddelike naam kan insluit nie, maar ook “die opsê van ’n onnodige seëning”.
Hoe moet ons dan die Kabbalistiese tikkun-gebed van regstelling beskou? Wat is die oorsprong daarvan? In die 12de en 13de eeu G.J. het ’n mistieke vorm van Judaïsme, wat Kabbala genoem word, gewild begin word. In die 16de eeu het Isaac Luria, ’n rabbi, “tikkunim” in Kabbalistiese liturgie ingebring. God se naam is as ’n mistieke towerspreuk met spesiale krag gebruik, en dit het deel geword van Kabbalistiese rituele. Dink jy dat dit ’n gepaste gebruik van God se naam is?—Deuteronomium 18:10-12.
Ongeag hoe jy daardie vraag beantwoord, jy sal saamstem dat die openlike gebruik van God se naam in hedendaagse Israel baie ongewoon was. En tog het God self voorspel: “In dié dag sal julle beslis sê: ‘Dank Jehovah! Roep sy naam aan. Maak onder die volke sy handelinge bekend. Meld dat sy naam hoog verhewe is. Besing Jehovah met melodieë, want wat hy gedoen het, is weergaloos. Dít word op die hele aarde bekend gemaak.’”—Jesaja 12:4, 5, NW.
Gelukkig doen Jehovah se Getuies in Israel, soos in meer as 230 lande regoor die wêreld, alles in hulle vermoë om hulle naaste te help om juiste kennis aangaande Jehovah op te doen. Dit is hulle hoop dat baie meer mense die betekenis sal begryp van tekste soos Psalm 91:14: “Omdat hy My liefhet, sê [Jehovah], daarom sal Ek hom red; Ek sal hom beskerm, omdat hy my Naam ken.”
[Voetnoot]
a Die Misjna is ’n versameling kommentare wat die skriftuurlike wet aanvul en wat gebaseer is op die verduidelikings van rabbi’s wat Tannaim (leraars) genoem is. Dit is laat in die tweede en vroeg in die derde eeu G.J. op skrif gestel.
[Prent op bladsy 28]
Hier in die Negeb word Jehovah se naam en sy Woord deur sy knegte bekend gemaak
[Prent op bladsy 29]
Plakkaat waarop die Goddelike naam verskyn