Iets beters as kosmetiese middels
NADAT die apostel Petrus na “uiterlike dinge” verwys het wat vroue gebruik het om hulle mooi te maak, het hy hulle aangeraai: “Nee, julle skoonheid moet dié van die innerlike mens wees: blywende beskeidenheid en kalmte van gees. Dit het by God groot waarde.”—1 Petrus 3:3, 4, NAV.
Interessant genoeg, toe die apostel van sulke uiterlike versiering geskryf het, het hy ’n vorm van die Griekse woord koʹsmos gebruik, wat ook die wortel van die Afrikaanse woord “kosmetiek” is, en wat beteken “om mooi te maak, veral die gelaatskleur”. Het Petrus Christenvroue verbied om grimering en ander soortgelyke skoonheidsmiddels te gebruik? Daar is niks in God se Woord wat daarop dui nie. Dit laat eerder ’n persoonlike besluit oor hierdie saak toe, en daarom kan ’n mens verwag dat smaak sal verskil.
Maar watter boodskap dra dit oor as ’n mens te veel grimering dra, of soveel dra dat dit baie mense hinder? Is dit nie ’n boodskap van onverfyndheid, skaamteloosheid, ’n gebrek aan goeie smaak, vertoonsug of selfliefde nie? Trouens, dit kan ’n vrou se voorkoms goedkoop maak en moontlik die verkeerde indruk oor haar sedelike karakter skep.—Vergelyk Esegiël 23:36-42.
In erkenning hiervan sal ’n vrou “wat bely dat [sy] God vereer” daarna streef om die eienskappe van gesonde verstand, sagtheid, goedhartigheid en beskeidenheid deur haar voorkoms te weerspieël indien sy besluit om grimering te dra. Sulke eienskappe sal haar innemender en aantrekliker maak. Trouens, of sy kies om grimering te dra of nie, sy sal waardigheid en innerlike skoonheid hê. Dit sal toon dat sy weet daar is iets beters as kosmetiese middels, soos Petrus se woorde hierbo impliseer.—1 Timoteus 2:9, 10.