Behou ’n goeie naam
DIT kan ’n lonende ondervinding wees om ’n pragtige skildery noukeurig te bestudeer. As ’n mens dit goed bekyk, sal jy sien hoe ’n kunstenaar honderde kwashale gebruik het om verskillende kleure op ’n skilderdoek te verf.
’n Goeie naam word eweneens opgebou, nie deur wat as een breë kwashaal beskryf kan word nie, maar eerder deur talle klein dingetjies wat oor ’n tydperk gedoen word. Ja, ons bou geleidelik ’n reputasie op deur ons dade.
Daarenteen kan een verkeerde kwashaal ’n skildery se waarde laat verminder. Dit is ook die geval met ons naam. Die wyse koning Salomo het gesê: “Dit is die dwaasheid van ’n aardse mens wat sy weg verdraai” (Spreuke 19:3, NW). Dit neem net een dwase daad—dalk ’n hewige woedeuitbarsting, die oormatige gebruik van sterk drank of een onkuise daad—om ’n goeie reputasie te bederf (Spreuke 6:32; 14:17; 20:1). Hoe noodsaaklik is dit derhalwe dat ons ’n goeie naam probeer verkry en hard werk om dit te behou.—Vergelyk Openbaring 3:5.