’n Oorwinning oor die kwaad
“WAAROM moet hierdie dooie hond my heer die koning vloek? Laat ek tog oorstap en sy kop afslaan!” Hierdie versoek het van Abisai, ’n Israelitiese leërowerste, gekom. Dit was sy woedende reaksie toe hy hoor hoe sy heer, koning Dawid, op ’n haatlike manier sleggesê word deur ’n Benjaminiet met die naam Simeï.—2 Samuel 16:5-9.
Abisai het toegegee aan ’n filosofie wat vandag oor die algemeen voorgestaan word—die beginsel om vuur met vuur te bestry. Ja, Abisai wou hê dat Simeï moes boet vir die beledigings wat hy Dawid toegesnou het.
Maar wat was Dawid se reaksie? Dawid het Abisai gekeer en gesê: “Laat hom staan.” Hoewel Simeï se beskuldigings nie waar was nie, het Dawid nederig die versoeking weerstaan om hom te vergeld. Hy het eerder die saak aan Jehovah oorgelaat.—2 Samuel 16:10-13.
Toe Dawid na die troon teruggekeer het, nadat hy gevlug het van ’n onsuksesvolle opstand deur sy seun, was Simeï een van die eerstes om hom te groet en om vergifnis te vra. Weer wou Abisai hom doodmaak, maar Dawid het dit weer eens nie toegelaat nie.—2 Samuel 19:15-23.
In hierdie geval was Dawid ’n waardige afbeelding van Jesus Christus, van wie die apostel Petrus geskryf het: “Toe hy uitgeskel is, het hy nie terug uitgeskel nie . . . , maar homself bly toevertrou aan die een wat regverdig oordeel.”—1 Petrus 2:23.
Vandag word Christene vermaan om ‘nederig van verstand te wees, nie kwaad met kwaad te vergeld nie’ (1 Petrus 3:8, 9). As ons die voorbeeld volg wat Dawid en Jesus Christus gestel het, kan ons ook “[aanhou] om die kwaad met die goeie te oorwin”.—Romeine 12:17-21.