Stadsraad prys Getuies
IN Cádiz, Spanje, ’n hawestad wat omtrent 500 kilometer suidwes van Madrid geleë is, het burgemeester Doña Teófila Martínez ’n gedenkplaat (foto bo) aan Jehovah se Getuies oorhandig. Dit sê: “Van die stadsraad van Cádiz aan Jehovah se Getuies, uit waardering vir hulle samewerking en harde werk ten behoewe van hierdie stad.” Wat het die Getuies gedoen om hierdie eer te ontvang?
Dit is gegee ter erkenning van die opknappingswerk wat die Getuies aan ’n deel van die stad se munisipale stadion gedoen het. Oor ’n hele paar naweke het honderde Getuies hulle vrywillig aangebied om die toilette op die grondverdieping van die Carranza-voetbalstadion te help opknap. Nou is die pype, die loodgieterswerk wat gedoen is en nuwe vloere wat ingesit is daar vir die gerief van almal wat die stadion gebruik.
Jehovah se Getuies geniet nou al ’n tyd lank ’n goeie verhouding met die stad Cádiz. Die stadsraad stel elke jaar die Carranza-stadion goedgunstiglik beskikbaar aan die Getuies vir hulle jaarlikse streekbyeenkoms. Daarom is die Getuies bly om te doen wat hulle kan om die stadion in ’n goeie toestand te hou.
Maar benewens die fisiese werk wat Jehovah se Getuies van tyd tot tyd doen, help hulle die publiek op ’n ander manier deur die stad se mense gereeld te besoek. Hulle verkondig die “goeie nuus” van God se Koninkryk. Hulle neem natuurlik nie aan hulle openbare bediening deel om lof van mense te ontvang nie. Hulle doen dit in gehoorsaamheid aan Jesus se opdrag om die “goeie nuus van die koninkryk” te verkondig en om ‘dissipels van mense van al die nasies te maak’ (Matteus 24:14; 28:19). Jehovah se Getuies hoop dat hulle op dié manier ’n diens aan die gemeenskap kan lewer deur mense in “die weg van regverdigheid” te leer.—Spreuke 12:28, NW.