“Ek kon die vreedsame atmosfeer aanvoel”
’NDUITSSPREKENDE man het na ’n streekbyeenkoms gegaan wat deur Jehovah se Getuies gereël is om op die Getuies te “spioeneer”. Waarom? Sy doel was om “hierdie sekte te ontmasker en te keer dat sy vriende mislei word”. Nadat hy die byeenkoms bygewoon het, het hy die volgende brief aan sy vriende geskryf:
“Toe ek die byeenkomsterrein nader, het ek gewonder of dit die regte plek is. Daar was nie ’n enkele persoon te sien nie, en geen rommel of bierblikkies het rondgelê nie. Toe ek nader kom, het ek twee mans by die stadion se ingang gesien. Hulle het my gegroet en my ingelaat.
“Ek het verwag om ’n geraas te hoor van die duisende wat veronderstel was om daar te wees, maar dit was baie stil. ‘Wel’, het ek gedink, ‘daar is waarskynlik net ’n handjievol mense wat oor die hele plek versprei is.’
“Toe ek ingaan, het ’n drama wat op die verhoog opgevoer is onmiddellik my aandag getrek. Ek het eers later besef dat die stadion stampvol was met duisende mense wat aandagtig luister. Ek kon die vreedsame atmosfeer aanvoel. Wat ek gedurende die res van die byeenkoms gehoor, gesien en gevoel het, het ’n diep indruk op my gelaat.
“Terwyl ek met die Getuies omgegaan het, het hulle gelukkige gesigte en liefdevolle woorde my opgeval. Skielik het ’n gedagte onwillekeurig by my opgekom: ‘Dit is werklik God se volk!’”
Pleks van “te keer dat sy vriende mislei word”, het die jong man hulle gevra om die Bybel met hom te studeer. Die gevolg? Vandag is hy ’n Christen- ouer man. Hy en sy gesin is bedrywig in een van die gemeentes in Zürich, Switserland.