“Oefen die seun”
OM MET welslae tuin te maak, beteken nie dat ’n mens bloot saad op die grond strooi en dan ’n paar maande later terugkom om te oes nie. Dit behels baie harde werk om die grond voor te berei, die saad te saai, en die plante nat te maak en te versorg sodat hulle kan groei.
Die waarheid in Spreuke 22:6 kan goed deur hierdie proses toegelig word, waar dit sê: “Oefen die seun volgens die eis van sy weg; dan sal hy, ook as hy oud word, daar nie van afwyk nie.” Die opleiding wat ouers gee, is inderdaad uiters belangrik as hulle hulle kinders suksesvol wil grootmaak.
Maar in die permissiewe wêreld van vandag volg baie ouers nie hierdie raad nie. Wanneer hulle die algemene gesindheid het, naamlik dat kinders moet leer om self hulle probleme die hoof te bied, word hulle kinders dikwels aan hulleself oorgelaat. So ’n weg laat jongmense kwesbaar vir die skadelike invloed van beginsellose en gewetenlose mense.—Spreuke 13:20.
Hoeveel beter is dit tog dat ouers Christelike beginsels by hulle kinders inskerp deur godvrugtige opleiding van ’n vroeë ouderdom af te voorsien. Van hoe vroeg af? “Van kleintyd af”, sê die apostel Paulus. Dit was die geval met die jong man Timoteus. Sy ma Eunice en sy grootmoeder Loïs het “die heilige geskrifte” by Timoteus ingeskerp sodat hy “geleer” het en “oortuig is om te glo”. Die gevolg? Hierdie opleiding het ’n belangrike rol gespeel om hom ‘wys te maak tot redding’.—2 Timoteus 1:5; 3:14, 15.
Ouers wat vandag “nie ophou om te doen wat voortreflik is nie”, sal ryk belonings maai indien hulle “nie moeg word nie” (Galasiërs 6:9). Die wyse koning Salomo sê: “Die vader van ’n regverdige juig baie.”—Spreuke 23:24.