Koninkryksverkondigers berig
Hulle skik hulle nederig na Jehovah se weë
‘SOEK Jehovah, o alle ootmoediges van die land.’ Hierdie uitnodiging, wat meer as 26 eeue gelede deur die Hebreeuse profeet Sefanja bekend gemaak is, word vandag nog steeds aan mense regoor die aarde gerig (Sefanja 2:3). Wat beteken dit om Jehovah te soek? Die eerste stap is om kennis in te neem van die enigste ware en lewende God, Jehovah.—Jeremia 10:10; Johannes 17:3.
Maar om kennis in te neem, lei nie op sigself tot ’n goedgekeurde posisie voor God nie. Om God se guns te verkry, moet ’n mens hierdie kennis ook toepas. Hoe? Deur jou denke en gedrag nederig na God se standaarde te skik, soos die volgende ondervinding uit Suriname toelig.—Efesiërs 4:22-24.
Eddy, ’n onderwyser in sy middel-dertigerjare, wou graag bevredigende antwoorde hê op vrae soos: ‘Watter rol speel godsdiens in die hedendaagse gemeenskap?’ en ‘Stem die Bybel, ’n ou boek, ooreen met die moderne wetenskap?’ Toe Jehovah se Getuies hom besoek het en Bybelse antwoorde op hierdie vrae gegee het, het Eddy aandagtig geluister. Hy het selfs aantekeninge gemaak om die Getuies se verduidelikings na te gaan.
Eddy het voorheen met ’n godsdiens geassosieer wat hom geleer het dat mense die eindresultaat is van God se evolusieproses in ape. Toe die Getuies dus vir hom die publikasie Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping? aanbied, het hy dit geredelik geneem. Die boek se duidelike uiteensetting van die Bybel se skeppingsverslag het hom beïndruk. Sy studie van die Bybel het hom daarvan oortuig dat hy die waarheid gevind het!
Maar nou het hy voor ’n toets te staan gekom. Eddy het in ’n huis gewoon waar diefstal en oneerlikheid ’n lewenswyse was. Hy moes dus kies: om sy kamermaats se verdorwe lewenswyse te volg of sulke gedrag te verwerp ten gunste van ’n lewenswyse wat God verheerlik. Eddy het wyslik die laasgenoemde gekies. Hy het alle slegte omgang beëindig en uit die huis getrek.—1 Korintiërs 15:33, 34.
Eddy het vinnig vooruitgang gemaak nadat hy vergaderinge by die Koninkryksaal begin bywoon het. Hy het ook veranderinge aangebring in sy kleredrag en persoonsversorging en met sy vriende en familielede begin praat oor wat hy geleer het. Sy vreugde is later vergroot toe hy goedgekeur is om aan die openbare verkondiging van die “goeie nuus” deel te neem (Matteus 24:14; Handelinge 20:20). In Desember 1996 het die langverwagte dag aangebreek waarop hy sy toewyding aan Jehovah deur middel van waterdoop gesimboliseer het.
Elke jaar reageer honderdduisende opregtes van hart gunstig op die uitnodiging om ‘Jehovah te soek’. Sodoende ondervind hulle die waaragtigheid van Spreuke 22:4, wat sê: “Die loon van nederigheid is die vrees van die HERE, is rykdom en eer en die lewe.” Ja, deur hulle nederig na Jehovah se weë te skik, kan liefhebbers van waarheid hierdie seëninge nóú geniet en vol vertroue uitsien na ewige seëninge reg hier op die aarde.—Psalm 37:29.
[Kaarte op bladsy 18]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Karibiese See
SURINAME
GUYANA
FRANS- GUIANA
BRASILIË
[Erkenning]
Aardbol: Mountain High Maps® Copyright © 1997 Digital Wisdom, Inc.