“Dit is die beste interlineêre Nuwe Testament wat beskikbaar is”
DIT is hoe dr. Jason BeDuhn The Kingdom Interlinear Translation of the Greek Scriptures beskryf. Hy verduidelik:
“Ek het so pas ’n kursus aangebied vir die Departement van Godsdiensstudie aan die Universiteit van Indiana, Bloomington, [VSA] . . . Die kursus handel hoofsaaklik oor die evangelieverslae. Julle was my tot hulp, aangesien my studente eksemplare van The Kingdom Interlinear Translation of the Greek Scriptures as een van die handboeke vir die klas gebruik het. Hierdie bundeltjies was van onskatbare waarde vir die kursus en was baie gewild by my studente.”
Waarom gebruik dr. BeDuhn die Kingdom Interlinear-vertaling in sy kollegekursusse? Hy antwoord: “Eenvoudig gestel, dit is die beste interlineêre Nuwe Testament wat beskikbaar is. Ek is ’n opgeleide Bybelkenner, wat vertroud is met die tekste en hulpmiddels wat in hedendaagse Bybelstudie gebruik word, en terloops, ek is nie ’n lid van Jehovah se Getuies nie. Maar ek ken ’n publikasie van gehalte as ek een sien, en julle vertaalkomitee van die ‘New World Bible’ het hulle goed van hulle taak gekwyt. Julle interlineêre Engelse weergawe is so akkuraat en konsekwent dat dit die leser verplig om die taalkundige, kulturele en begripsverskille tussen die Griekssprekende wêreld en ons eie te aanvaar. Julle ‘New World Translation’ is ’n uitstekende letterlike vertaling wat tradisionele uitleggings vermy omdat dit getrou by die Grieks bly. In baie opsigte oortref dit die suksesvolste vertalings wat vandag gebruik word.”
The Kingdom Interlinear Translation of the Greek Scriptures word deur Jehovah se Getuies uitgegee om liefhebbers van God se Woord te help om met die oorspronklike Griekse teks van die Bybel vertroud te raak. Dit bevat The New Testament in the Original Greek aan die linkerkant van die bladsy (saamgestel deur B. F. Westcott en F. J. A. Hort). ’n Letterlike woord vir woord vertaling in Engels word onder die reëls van die Griekse teks gevind. In die nou regterkantste kolom is die New World Translation of the Holy Scriptures, wat jou in staat stel om die interlineêre vertaling met ’n moderne Engelse vertaling van die Bybel te vergelyk.